UPM nader hof oor NV-onttrekking

Dringende aansoek teen PDM gebring
Die president van die UPM eis dat sy onttrekking as lid van die Nasionale Vergadering ongrondwetlik was.
Kristien Kruger
Die United People’s Movement (UPM) het ’n hofstryd begin om die onttrekking van twee van sy lede aan die Nasionale Vergadering (NV) tersyde te stel en eis dat hulle weer ingesweer moet word.

Die president van die UPM, Jan Johannes van Wyk, en sy medepartylid, Frans Josef Bertolini, is op 6 Maart as lede van die NV onttrek en twee lede van die Popular Democratic Movement (PDM), Loide Iipinge en Katrina Benz, is op dieselfde dag ingesweer as nuwe lede van die NV en het gevolglik Van Wyk en Bertolini vervang.

Van Wyk en Bertolini het die setels beklee op grond van ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) wat die PDM en UPM in 2019 aangegaan het.

Ingevolge dié MoU het die UPM en PDM ooreengekom om ’n gesamentlike partylys vir die nasionale verkiesing saam te stel en dat die UPM twee setels op die gesamentlike PDM-partylys sal beklee.

Van Wyk het Maandag ’n verklaring by die hof ingedien waarin hy beweer dat die PDM nie die reg gehad het om sulke stappe te neem nie.

“Die UPM is ’n afsonderlike geregisteerde politieke party van die PDM en daarom kan die PDM nie UPM-lede ingevolge die grondwet uit die Nasionale Vergadering onttrek nie,” beweer hy.

Die dringende aansoek is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek tot 27 Maart uitgestel.

GELD GESNY

Van Wyk meen die aansoek is dringend omdat die UPM finansiering van die PDM ingevolge die MoU ontvang, wat stipuleer dat ’n bedrag per setel toegeken word.

“Die party sal nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie. Die UPM het maandelikse finansiering van N$180 000 ontvang.”

Hy beweer ook dat die UPM nie meer in die NV verteenwoordig word nie.

“Die presidensiële en nasionale verkiesings sal in November 2024 gehou word, wat ongeveer agt maande van nou af is.

“Sou die saak normaalweg voortgaan, sal die nuwe NV-lede reeds ingesweer wees teen die tyd dat die saak afgehandel is,” meen Van Wyk.

REDE VIR ONTTREKKING

Hoewel die PDM nog nie hofstukke in reaksie op die dringende aansoek ingedien het nie, beweer Van Wyk die rede vir die onttrekking is blykbaar die UPM se beweerde skending van die MoU, aangesien hulle ’n nuwe alliansie met die National Empowerment Fighting Corruption (NEFC) gevorm het.

Van Wyk voer aan dat die beweerde verbreking van die ooreenkoms, nie gronde kan wees vir “onbevoegdheid” om lede van die nasionale vergadering te wees nie.

“Verder is dit duidelik uit die bepalings van die MoU dat die nuwe alliansie nie die bestaande MoU ondermyn het nie. Die UPM se alliansie met die NEFC beïnvloed geensins die huidige bedrywighede en funksionering van die bestaande MoU soos deur die PDM beweer word nie,” lui Van Wyk se verklaring.

Volgens die MoU het die UPM glo ingestem om die PDM se presidensiële kandidaat te ondersteun en die PDM beweer nou dat die UPM versuim het om aan dié vereiste te voldoen aangesien die UPM openlik die onafhanklike presidensiële kandidaat, Ally Angula, onderskryf het.

Van Wyk beweer in sy verklaring dat die betrokke klousule van die MoU slegs betrekking gehad het op die 2019-verkiesing en glo nie vanjaar se verkiesings nie.

PLAASVERVANGERS

Die UPM soek ’n bevel van die hof wat die onttrekking van Van Wyk en Bertolini aan die NV ongrondwetlik verklaar en tersyde stel.

Hulle wil verder hê dat die twee mans weer ingesweer word, of alternatiewelik vervang word met twee lede van die UPM.

Volgens Van Wyk se verklaring het die MoU gestipuleer dat enige vakature – wat tydens die bestaan van die MoU – in die NV oopgaan, gevul moet word deur lede van daardie spesifieke party.

“In hierdie geval is die twee vakature in die VN deur lede van die UPM ontruim; dus moet lede van die UPM die poste vul en nie PDM-lede nie,” meen Van Wyk.

‘STEEDS VAN KRAG’

Die UPM doen ook aansoek vir ’n hofbevel wat verklaar dat die MoU steeds geldig en van krag is.

“Die PDM het nooit die alliansie-ooreenkoms beëindig nie of sodanige beëindiging gekommunikeer nie,” voer Van Wyk aan.

Hy beweer dat die MoU daarom steeds van krag is.

Ingevolge Van Wyk se verklaring het die twee partye in 2019 die betrokke geskrewe MoU aangegaan en ’n alliansie genaamd PDM-UPM Alliance gevorm.

Die doel van die MoU was glo vir die PDM en UPM om saam te werk tydens die presidensiële en nasionale verkiesings in 2019 en die streekraadsverkiesings in 2020.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!