Foto argief
Foto argief

Verkiesingsuitdaging wag vir hooggeregshof

'Beslissing was onvermydelik'
Die regsgeskil oor verkiesing sal op 20 Februarie in die hooggeregshof voortduur.
Augetto Graig
Die kieshof het besluit om die Independent Patriots for Change (IPC) se uitdaging van die nasionale verkiesing in November verlede jaar tydelik te staak tot die hooggeregshof die IPC se ander uitdaging van die presidensiële verkiesing afgehandel het.

Regters Hannelie Prinsloo, Orben Sibeya en Esi Schimming-Chase het Maandag hul beslissing in die hoërhof in Windhoek gelewer.

Dit volg nadat partye verlede week argumente ten opsigte van die uitstel gelewer het.

Nadat die regsverteenwoordigers se insette oorweeg is, is besluit dat die aansoek – wat die proklamasie uitdaag waarin president Nangolo Mbumba die stemtydperk vir die nasionale verkiesing verleng het – tydelik gestaak moet word.

Volgens Prinsloo sal die kieshof by die bevindings van die hooggeregshof hou en as Namibië se hoogste hof besluit dat die proklamasie geldig is, sal die IPC se aansoek in verband met die Nasionale Vergadering-verkiesing ook geskrap word.

“Indien die hooggeregshof beslis dat die proklamasie onwettig was, sal hierdie hof ook daaraan gebonde wees, en sal slegs oor die gevolge daarvan besluit,” brei sy uit.

Sy sê die besluit om vir die hooggeregshofuitspraak te wag was onvermydelik. Die hooggeregshof se beslissing sal die kwessie waaroor die verkiesingshof moet besluit vernou en ’n uitslag bespoedig, wat ook koste sal bespaar, sê die regter.

President Nangolo Mbumba, die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN), die kantoor van die prokureur-generaal, Swapo en ander politieke partye is as respondente in die saak in die kieshof gelys.

In terme van ’n sekuriteitsdeposito wat aansoekers volgens die wet moet betaal voordat hul aansoek aangehoor word, bly die hof se besluit van verlede week van krag.

Die hof het die IPC beveel om N$450 000 te deponeer as sekuriteit vir koste vir Swapo, die ECN en Mbumba, ingeval die opposisieparty die saak verloor. Dit beloop N$150 000 vir elke respondent.



HOOGGEREGSHOF

Verrigtinge in die hooggeregshof sal na verwagting op 20 Februarie voortduur met ’n statusverhoor waartydens die versoek van die Landless People’s Movement (LPM), om by die hofaansoek aan te sluit, aangehoor sal word.

Die LPM se regsverteenwoordigers moet hulle hoofbetoë voor of op 13 Februarie by die hof indien. Die respondente het tot 17 Februarie om hul beantwoordende beëdigde verklarings in te dien.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!