Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief
Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief

Verkragter se vonnis verkort

Kristien Kruger
’n Man wat tot 12 jaar tronkstraf gevonnis is op ’n klag van verkragting en diefstal, se vonnis is met twee jaar verkort nadat hy ’n aansoek om appèl by die hoërhof in Windhoek ingedien het.

Moses Musongo is in November 2022 skuldig bevind nadat ’n vrou aangevoer het dat hy haar verkrag en haar selfoon gesteel het.

Die streekhof op Rundu het hom tot 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragtingsklag en twee jaar vir diefstal.

Musongo se appèlaansoek was teen sy vonnisoplegging en skuldigbevinding op beide klagte. Die hof het egter beslis dat slegs die appèl teen die diefstalklag kan slaag.

Die klaagster het getuig sy het haar foon in haar onderklere gehad toe sy en Musongo ’n kroeg saam verlaat het. Haar foon het egter verdwyn nadat hy haar glo uitgetrek en seksuele omgang met haar gehad het.

Toe Musongo, wat homself verteenwoordig het, haar tydens kruisondervraging oor die foon uitgevra het, het sy bloot gesê: ׅ“Jy is die een wat my uitgetrek het, jy moet weet waar jy dit gesit het.”

Regter Dinnah Usiku het op grond hiervan beslis sy was nie seker waar haar foon was nie.

“Sy het bloot aangeneem aangesien hy haar uitgetrek het, moes hy haar foon weggesteek het. Dit was nie die appellant [Musongo] se bedoeling om haar te beroof nie,” lui Usiku se uitspraak.

Usiku het dus beveel dat die vonnis van twee jaar tronkstraf ten opsigte van die diefstalklag, tersyde gestel word.

VERKRAGTING

Die vonnis vir die verkragting bly egter onveranderd.

Musongo het aangevoer hy en die klaagster het konsensuele seks gehad. Hy het gesê die hof se beslissing dat die staat bo redelike twyfel bewyse gehad het dat hy haar verkrag het, was verkeerd.

Hy het in die appèlaansoek verder aangevoer dat die hof nie die teenstrydighede in haar getuienis in ag geneem het nie. Hy het beweer die vonnis van tien jaar tronkstraf het hom geskok.

“Nadat al die bewyse oorweeg is, is hierdie hof oortuig van die appellant se skuld ten opsigte van die verkragtingsklag. Die vonnis wat in terme van dié klag opgelê is, wek nie ’n gevoel van skok nie, veral met inagneming van die erns van die misdaad en die belang van die samelewing,” het die hof beslis.

Usiku het verder beslis dat die getuienis tot die teendeel – dat die seksuele omgang konsensueel was – hoogs onwaarskynlik is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!