Die beweerde verkragter, Moses Salele, wat vry is op borgtog, het gister (Maandag) in die hoërhof in Windhoek verskyn. Foto Argief
Die beweerde verkragter, Moses Salele, wat vry is op borgtog, het gister (Maandag) in die hoërhof in Windhoek verskyn. Foto Argief

Verkragtingsaak hervat ná lang vertraging

DNS-verslae reeds voltooi
Die saak waarin 'n man teregstaan op onder meer die verkragting van twee vroue, sal in April vanjaar hervat ná maande se gewag vir verslae van die Namibiese Instituut vir Forensiese Wetenskap.
Kristien Kruger
Die man wat daarvan beskuldig word dat hy in Junie 2020 by ’n huis in die informele nedersetting Goreangab ingebreek en na bewering twee vroue verkrag het, se verhoor sal op 3 April vanjaar hervat.

Moses Salele het met die aanvangs van sy verhoor in Augustus 2023 onskuldig gepleit op al 13 aanklagte waarop hy teregstaan. Die verhoor is egter aan die einde van verlede jaar onderbreek hangende die verslae van die Namibiese Instituut vir Forensiese Wetenskap (NIFS) met betrekking tot DNS-toetse van die twee vermeende slagoffers.

Die staatsaanklaer, Palmer Khumalo, het Maandag aan regter Philanda Christiaan gesê hoewel hy ingelig is dat dié DNS-verslae reeds voltooi is, het hy dit nog nie ontvang nie.

Hy het wel die hof aangeraai om datums te skeduleer vir die hervatting van die verhoor en aangedui hy sal gereed wees om twee bykomende getuies van die NIFS te roep om oor die DNS-uitslae te getuig. Na die afhandeling van dié twee getuies, sal die staat na verwagting hulle saak sluit.

Christiaan het die saak tot 3 April uitgestel en die saak sal tot 5 April duur. Verdere verhoordatums is ook vir 15 tot 19 April geskeduleer.

Salele bly vir tyd en wyl vry op borgtog.

AGTERGROND

Die staat beweer dat Salele en ’n onbekende verdagte op 5 Junie 2020 by die vermeende slagoffers se huis ingebreek en hulle met ’n geweer en mes gedreig en verkrag het.

Hy en sy medepligtige het na bewering een van die vroue se selfoon gesteel. Volgens die staat het die twee slagoffers Salele as een van die oortreders geïdentifiseer wat hulle aangeval het.

Salele ontken hy was in die huis en dat hy saam met ’n medepligtige gewerk het. Hy het nie ’n pleitverduideliking aan die hof verskaf nie, maar aangedui dat hy sal steun op ’n alibi-verweer en een getuie, Ndamona Hijalulwa, sal roep om in sy verdediging te getuig.

Hy staan tereg op 13 aanklagte, insluitend huisbraak, verkragting, diefstal en die oortreding van die Wet op Ammunisie en Vuurwapens.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer