Foto argief
Foto argief

Verkragtingsaak: Pa, ouma kry borgtog

Jemima Beukes,Kristien Kruger
Jemima Beukes en Kristien Kruger – Die mediese dokter en sy 58-jarige ma wat glo betrokke was by die molestering en verkragting van die dokter se sewejarige seun, is Vrydag borgtog in die Windhoekse landdroshof toegestaan.

“Hierdie borgtogaansoek is gebaseer op emosie tussen beide partye. Ons moet daarop let dat die reg geskei moet word van emosies en sodra ons ons redenasie met emosies begin vertroebel, sal ons nie reg laat geskied nie en nie die wet sonder vrees of guns toepas nie,” het landdros Immanuel Udjombola in sy uitspraak gesê.

Beide is borgtog van N$15 000 toegestaan op die voorwaarde dat hulle nie met staatsgetuies of staatsbewyse inmeng nie.

Udjombala het bevind die twee beskuldigdes het bewys dat daar nie ’n vlugrisiko is as hulle op borgtog vrygelaat word nie. Hy het ook bevind dat daar nie ’n redelike vrees bestaan dat hulle by die ondersoek sal inmeng nie.

Die twee beskuldigdes het ongeveer ’n maand in aanhouding deurgebring en moet weer op 13 September in die hof verskyn.

Die pa word daarvan beskuldig dat hy sy seun verskeie kere verkrag het. Die ouma het na bewering wag gestaan ​​terwyl die verkragtings plaasgevind het.

Tydens die aanhoor van die formele aansoek om borgtog het albei dié bewering ten sterktste ontken.

In die borgtoguitspraak het Udjombala daarop gewys dat die mediese ondersoek geen beserings van seksuele aanranding by die seun gevind het nie.

PA ONTKEN SKULD

Die seun se pa is ’n dokter wat vir die eenheid vir geslagsgebaseerde geweld by die Katutura-hospitaal gewerk het.

Hy het tydens die borgtogaansoek getuig en in trane uitgebars. Hy beweer sy eksvrou het die beweerde verkragting opgemaak.

Luidens sy getuienis het sy eksvrou glo eendag ’n skeurtjie so groot soos ’n “papiersny” op die kind se anus gesien en later vir hom gesê dat sy “geslagsdele kan ruik” aan die kind se hande en die agterkant van sy T-hemp.

Hy het haar toe aangemoedig om ’n sielkundige te sien en ná ’n paar sessies het sy hom glo daarvan beskuldig dat hy die sielkundige omkoop. Die sielkundige het glo vir hom gesê sy is siek.

“Sy het eendag vir my gesê die kind kry nagmerries en slaap nie snags nie. Toe sy die sny op die kind se anus kry, het sy die volgende dag vir my gesê dit word erger. Ons het die kind na ’n pediater geneem [. . .]”

Volgens hom is hulle toe na ’n chirurg verwys vir ’n kolonoskopie, wat gesê het daar is niks fout met die seun nie. In reaksie hierop het sy eksvrou hom glo daarvan beskuldig dat hy die dokter omgekoop het.

“Daardie grusame ondersoek [kolonoskopie] het my hart geskeur, want die kind se woorde was ‘ouch’, ‘stop’ en ‘Dadda’. Ek was so getraumatiseerd,” het die pa destyds getuig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer