Beweerde dwelmsmokkelaars mnre. Grant Noble (links) en Dinah Azhar. Foto Kristien Kruger.
Beweerde dwelmsmokkelaars mnre. Grant Noble (links) en Dinah Azhar. Foto Kristien Kruger.

Vermeende dwelmhandelaars nie kwytgeskeld

Verhoor hervat op 23 Maart
Twee vermeende kokaïenhandelaars het 'n kans gehad om vrygespreek te word van alle aanklagte teen hulle, maar die hof het nie in hul guns beslis nie.
Kristien Kruger
Die vriende en familie van twee vermeende dwelmsmokkelaars van Walvisbaai het gister in die hoërhof in Windhoek gesit met die hoop dat mnre. Grant Noble en Dinah Azhar kwytgeskeld sou word, maar hul aansoek om ontslag is van die hand gewys.

“Hierdie hof is van mening dat ’n hof wat versigtig optree die beskuldigdes op grond van die bewyse wat tot dusver gelewer het, moontlik skuldig kan bevind,” het regter Orben Sibeya tydens die uitspraak gesê. Noble en Azhar word daarvan beskuldig dat hulle 412 kilogram kokaïen vanaf Brasilië na Walvisbaai se hawe ingevoer het. Hulle het tereg gestaan op klagte van dwelmhandel, alternatiewelik die besit van dwelms, en geldwassery.

Hulle het aan die begin van hul verhoor onskuldig op alle aanklagte gepleit.

Die alternatiewelike klag van die besit van dwelms is gister geskrap, omdat die dwelms en die vraghouer glo nooit in die beskuldigdes se besit was nie en daar geen bewyse is dat die beskuldigdes ooit in Brasilië was of deel gehad het in die pak van die vraghouer nie.

Noble bly in aanhouding en Azhar is steeds vry nadat hy te midde van die verhoor op 15 September borgtog toegestaan is.

Die verhoor sal weer op 23 Maart hervat.

AANSOEK OM ONTSLAG Die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, het in November 2021, nadat die staat hul saak afgesluit het, ’n aansoek om ontslag ingedien wat volgens artikel 174 van die strafproseswet die hof in staat stel om – indien die staat nie genoegsame bewyse teen die beskuldigdes gegrond op die klagte teen hulle het nie – die beskuldigdes onskuldig te bevind.

Die staat het 25 getuies geroep, insluitend verskeie lede van die polisie en hawepersoneel wat teenwoordig was toe die vraghouer deursoek is.

Volgens Sibeya sou dit op grond van dié getuienisse onvermydelik wees om die visenteringslasbrief, wat glo nie grontwetlik verkry is nie, onder die loep te bring. Twee forensiese kenners van die Namibiese Instituut vir Forensiese Wetenskap, wat die dwelms hanteer en getoets het, het ook getuig.

AZHAR BETAAL VIR ‘FOTOSTAATPAPIER’ Die vraghouer wat veronderstel was om slegs fotostaatpapier te bevat, is deur die maatskappy Zeeki Trading cc aangekoop.

Sibeya het tydens die uitspraak gesê daar is genoegsame bewyse dat Noble die enigste aandeelhouer in die maatskappy was. Hy is wel onseker watter belang Azhar by die maatskappy gehad het omdat hy geen aandele het nie, maar steeds toegang tot die maatskappy se bankrekening gehad het.

Azhar het na bewering die betaling van sowat N$215 000 aan ’n entiteit in Brasilië gemaak vir 480 bokse fotostaatpapier. Die dwelms het na bewering ’n beraamde waarde van sowat N$206 miljoen.

“Hoewel daar geen bewyse is dat die beskuldigdes in Brasilië was nie, kan die hof hom nie blind staar teen die ander bewyse nie, soos onder meer dat die beskuldigdes die papier bestel en betaal het; hulle eienaarskap van die vraghouer erken en daarop aangedring het dat die vraghouer in die maatskappy se skuur oopgemaak moet word. Asook die feit dat 480 bokse papier bestel is en daar presies 480 bokse in die vraghouer was, waarvan 20 bokse 400 kleiner pakkies kokaïen bevat het,” lui die uitspraak. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!