• Tuisblad
  • Howe
  • Veroordeelde verslaafde kwytgeskeld, vrygelaat

Veroordeelde verslaafde kwytgeskeld, vrygelaat

Uitspraak Maandag gelewer
'n Regter van die hoërhof het beveel dat die vonnis vervang en opgeskort moet word.
Kristien Kruger
’n Man wat in Februarie vanjaar tot 18 maande tronkstraf gevonnis is nadat hy met 142 gram dagga en ander hoogs verslawende medikasie gevang is, se vonnis is Maandag tersyde gestel.

Regter Philanda Christiaan het Donovan Kooper in die hoërhof in Windhoek kwytgeskeld en beveel dat hy uit aanhouding vrygelaat moet word. Sy het bevind dat die vonnis onder die omstandighede te streng was.

“’n Boete tesame met opgeskorte gevangenisstraf sou eweneens die doel van die vonnis bereik het,” lui die uitspraak.

Christiaan het die vonnis van 18 maande tronkstraf vervang met ’n boete van N$3 000 of ses maande tronkstraf, maar dit is in sy geheel opgeskort op die voorwaarde dat Kooper vir ’n tydperk van vyf jaar nie weer aan soortgelyke oortredings skuldig bevind word nie. Kooper se vrylating uit aanhouding is gelas op die voorwaarde dat hy nie in verband met ’n ander saak aangehou word nie.

Buiten vir die dagga het Kooper 59 tablette in sy besit gehad wat ’n kalmerende hipnotiese middel bevat (methqualone). Die middels in sy besit was sowat N$8 500 werd.

Hy het glo erken dat die dagga en medikasie vir sy eie gebruik was en het aan die begin van sy verhoor skuldig gepleit op die aanklagte vir die besit van verslawende middels.



APPÈLAANSOEK

Kooper is in die Bethanie-landdroshof gevonnis en hy het in September by die hoërhof in Windhoek teen sy vonnisoplegging geappelleer.

Volgens Christiaan se verklaring het die staat se verteenwoordiger, ’n ene mnr. Malumani, nie vir die aanhoor van die appèlaansoek opgedaag nie en het die saak sonder hom voortgegaan.

Kooper se regsverteenwoordiger, Percy McNally van Metcalfe Beukes Attorneys, het voorgegaan om sy betoë te lewer en aangevoer dat Kooper ’n eerste oortreder is met ’n swanger meisie en vier kinders. Hy meen ook dat die feit dat Kooper skuldig gepleit en berou getoon het vir sy dade in ag geneem moes word tydens sy vonnisoplegging.

“Die landdros het gepoog om ’n voorbeeld van die appellant te maak in die lig van die feit dat die landdros hom as ’n verslaafde verklaar het wat uit die samelewing verwyder moet word om hom van sy verslawing te genees.

“Daar word aangevoer dat so ’n bevinding totaal irrelevant, ongevraagd en ongegrond is,’ lui Kooper se betooghoofde in die appèlaansoek.

McNally het verder aangevoer dat daar geen feitelike basis is vir die bevinding dat Kooper aan dagga verslaaf is nie.



UITSPRAAK

Hoewel Christiaan in haar uitspraak erken het dat Kooper aan ’n baie ernstige misdaad skuldig bevind is, meen sy dat die hof ’n balans moet handhaaf tussen die oortreder se omstandighede en openbare belang.

Sy het bevind dat die Bethanie-landdroshof, wat Kooper gevonnis het, nie sy persoonlike omstandighede behoorlik in ag geneem het nie.

“Dit is myns insiens dat die [landdroshof] die erns en aard van die misdaad oorbeklemtoon het. Om ’n effektiewe 18 maande gevangenisstraf op te lê aan ’n eerste oortreder, wat skuldig gepleit het en wat in diens geneem is, is na my mening te hard,” lui Christiaan se uitspraak.

Sy het bygevoeg dat die vonnis na haar mening buitensporig was.

Die appèlaansoek het dus geslaag en die saak is Maandag van die hofrol geskrap.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!