• Tuisblad
  • Howe
  • ‘Versekeringsbedrog’ van N$103 miljoen oopgevlek
6152ffd8-320f-4f3a-9fa9-20574aacd09c
6152ffd8-320f-4f3a-9fa9-20574aacd09c

‘Versekeringsbedrog’ van N$103 miljoen oopgevlek

Voormalige trustee bring dringende aansoek
Uit die hofstukke blyk dit dat die bedrogskema 'n groot verskeidenheid van kliënte betrek.
Jemima Beukes
Jemima Beukes – Petrichor Capital (Edms) Ltd het ’n sekwestrasiebevel van die hoërhof in Windhoek teen Michael Hough Bronkhorst, ’n bekende plaaslike geoktrooieerde rekenmeester en sakeman, verkry om sowat N$103 miljoen te verhaal wat na bewering van kliënte van ’n plaaslike versekeringsmaatskappy verduister is.

’n Voormalige trustee van Petrichor Capital, Heinrich Jansen van Vuuren, het Bronkhorst in ’n dringende aansoek as ’n “dief en bedrieër” bestempel wat weet dat sy kaartehuis in duie stort en kan nie vertrou word nie.

Bronkhorst, wat lewensdekking van N$50 miljoen het, word daarvan verdink dat hy fondse versteek het om sy bedrieglike aktiwiteite te ondersteun.

Bronkhorst is gedagvaar om verklarings te gee oor rekeninge by onder meer Bank Windhoek, FNB, Nedbank Namibia Limited, Standard Bank Limited, Old Mutual Investment, Allan Gray Namibia, Alexander Forbes en Momentum Wealth.

DIE BEGIN

Van Vuuren het verduidelik dit het begin toe hulle in Februarie 2018 ’n voorstel aan ’n plaaslike versekeringsmaatskappy voorgelê het wat toegelaat het om hulle korttermynpolisse vir die oordrag van risiko (ART’s), ook bekend as selfversekeringspolisse, te gebruik as kollateraal vir versekerde kommersiële lenings.

Die sakeverhouding het in Maart dieselfde jaar begin, toe Petrichor Capital sy eerste lening voorgeskiet het op grond van ’n ART-polis wat in sekuriteit aan hom gesedeer is en Petrichor skuldbriewe aan die betrokke versekeringsmaatskappy uitgereik het.

Bronkhorst, volgens Van Vuuren, was instrumenteel in die verkryging van besigheid vir Petrichor Capital aangesien hy die hoofkontakpunt vir ’n aantal ART-polishouers was, en was vanweë sy finansiële insig ten volle vertroud met die produkaanbieding.

UITGEVANG

In sy beëdigde verklaring het Van Vuuren gesê hulle het tussen 3 en 4 Maart vanjaar die ontdekking gemaak van grootskaalse bedrog toe hy ’n e-pos van ’n onderskrywer ontvang het waarin sy hom ingelig het dat ’n kliënt van die versekeringsmaatskappy fondse uit sy polis wou onttrek.

Die kliënt is egter ingelig dat hulle nie fondse kan onttrek nie aangesien hierdie polis aan Petrichor gesedeer is as sekuriteit vir ’n lening van N$2,5 miljoen aan ’n maatskappy genaamd BV Investments Eight Hundred en Eighty Six cc.

Die kliënt het egter onmiddellik ontken dat hy ooit ’n lening by Petrichor aangegaan het of enige oordrag ten gunste van Petrichor onderteken het. Hy het gevolglik die onderskrywer meegedeel dat die handtekeninge op die leningsooreenkoms vervals is en dat die rekening nie aan hom behoort nie.

“Ek was geskok en kon dit nie glo nie. Nadat ek bedaar het, het ek ’n SMS-boodskap aan Bronkhorst gestuur en hom gevra om my die volgende dag by my kantoor te kom sien.

“Op 4 Maart 2024 omstreeks 10:00 het hy saam met sy regsverteenwoordiger, Hennie Kruger, opgedaag. Ek en my kollega mnr. Cronje was teenwoordig.

“Ek het aan beide duidelik gemaak dat ek as direkteur van Petrichor optree en ek het Kruger meegedeel dat ek nie namens die versekeringsmaatskappy of die aandeelhouers van Petrichor kan praat nie, maar ek sal enige voorstel oorweeg solank die geld onmiddellik terugbetaal word. Bronkhorst en Kruger het gesê hulle sal ’n voorstel formuleer wat ons kan oorweeg,” het hy gesê.

Van Vuuren het bygevoeg dat hy en Cronje die finansiële hoofbeampte en besturende direkteur van die versekeringsmaatskappy gaan sien het en hulle het deur ’n lys van lenings gewerk wat Bronkhorst begin het.

Volgens hom het hy en Cronje weer die volgende dag met Bronkhorst en sy prokureur vergader en dit was toe sy ergste vrees bevestig is – dat BV Investments Eight Hundred en Eighty Six cc slegs een van vele maatskappye is waaruit miljoene dollars verduister is.

“Kruger het in Bronkhorst se teenwoordigheid bevestig dat die vals leningsrekeninge wat deur Bronkhorst se skema vir sy eie gebruik herlei is, sowat N$103 miljoen beloop het.

“Kruger, in die teenwoordigheid van Bronkhorst, het ons meegedeel dat laasgenoemde ’n netto batewaarde van N$38 miljoen het, die aanspreeklikheid van die N$103 miljoen uitgesluit,” het van Vuuren gesê.

Dié bates, volgens Van Vuuren se verklaring, sluit ’n voerkraal in wat deur Bronkhorst bedryf word en beeste met ’n geraamde waarde van N$10 tot 12 miljoen. Daar is egter daarop gewys dat die beeste en ander roerende bates nie noodwendig syne is nie en mag deur trusts besit word waarin hy ’n trustee of begunstigde is.

Bronkhorst besit na bewering ook ֹ’n plaas ter waarde van sowat N$27 miljoen met ’n verband daarop vir sowat N$16 miljoen en ’n huis van N$5,3 miljoen in Klein Windhoek met ’n verband wat nog ten volle betaalbaar is.

“Dit het tydens hierdie vergadering vir my baie duidelik geword dat Bronkhorst erken het dat hy ’n bedrag van N$103 miljoen skuld en dat hy aanbied om hierdie bedrag aan Petrichor terug te betaal.

“Hy het ’n uitgebreide skema voorgestel, maar nooit bespreek hoe hy die geld met rente gaan terugbetaal nie.

“Ek het besef dat hy nie die geld sal kan terugbetaal nie. Trouens, tot ons skok het hy selfs voorgestel dat Petrichor geld aan hom leen of kapitaal moet verskaf om hom in staat te stel om Petrichor terug te betaal,” het Van Vuuren gesê.

Volgens Van Vuuren het hul Bronkhorst so baie vertrou dat hy en Cronje as trustees op die Camelthorn Business Trust dien waarop Bronkhorst, sy vrou en ander korporatiewe entiteite begunstigdes is.

“Ek wys daarop dat ek en Cronje – sodra ons van die bedrog uitgevind het – ons dadelik ’n trustvergadering belê het, waarop ons hom as ondertekenaar uit die bankrekening van die genoemde trust verwyder het,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!