’n Toneel uit die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF) se bedrywighede. Foto Namibiana Buchdepot/namibiana.de
’n Toneel uit die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF) se bedrywighede. Foto Namibiana Buchdepot/namibiana.de

Veteranewet ‘baat net PLAN-vegters’

Saak teruggetrek
'n Voormalige SWATF-lid beweer die huidige regering maak gereeld lasterlike aantygings, soos die stelling dat hulle aan die verkeerde kant tydens die bevrydingstryd geveg het.
Kristien Kruger
’n Voormalige lid van die destydse Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag (SWATF) het onlangs ’n hofaansoek ingedien waarin hy beweer dat Namibië se wet op veterane “diskriminerend” is deurdat dit slegs die bevrydingsvegters van PLAN en die elites in die regering bevoordeel.

Willem Beukes het die hoërhof verlede maand versoek om die Wet op Veterane van 2008 en die Wysigingswet op Veterane 3 van 2013 te hersien.

Beukes se aansoek is egter Dinsdag teruggetrek nadat die Verenigde SWATF Veterane-organisasie van Namibië bekend gemaak het dat Beukes glo in isolasie opgetree en die saak sonder die goedkeuring of toestemming van uitvoerende komiteelede aanhangig gemaak het.

‘VIR VERKEERDE KANT GEVEG’

In Beukes se verklaring wat ingedien is voordat die saak teruggetrek is, het hy aangevoer die veteranewet is in stryd met die Namibiese grondwet wat eenheid, vryheid, vrede en stabiliteit bevorder.

“Die applikante neem ernstig kennis van allerlei lasterlike aantygings in die parlement deur die huidige opsigter (caretaker) van die regering/regime, asook parlementslede van die regerende party (Swapo).

“Die huidige versorger van die regering/regime moet hom weerhou van gebrekkige bewoording, soos die stelling dat die aansoekers vir die verkeerde kant tydens die bevrydingstryd geveg het.”

“Die applikante het hul verpligtinge nagekom om die gebied wat nou as Namibië beskou word, te beskerm teen gevorderde militêre reuse soos die Russiese, Kubaanse, Angolese en Portugese weermagte, om net ’n paar te noem,” lui Beukes se verklaring.

Hy wys ook daarop dat die huidige administrasie ’n goeie infrastruktuur kon oorneem aangesien die SWATF na bewering hul verpligtinge nagekom het om die infrastruktuur van Namibië te beskerm, selfs tydens ’n gevaarlike oorlog.

Beukes meen SWATF het hul pligte met ywer, doelgerigtheid en in goeder trou uitgevoer.

“Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies se Resolusie 435 van 29 September 1978 is in goeie trou aanvaar, onder die voorwendsel van ‘Een Namibië, Een Nasie’ vir totale nasionale versoening soos uiteengesit in die stigtingsdokument en die grondwet, maar tot op hede is dit tevergeefs,” beweer Beukes in sy verklaring.

‘GEPEUTER’ MET NOTULE

Die Verenigde SWATF Veterane-organisasie van Namibië beweer nou ook dat Beukes met die notule van die vergadering, gedateer 15 April 2023, gepeuter het.

Hulle voer aan dat hy die inhoud van die notule verander het sonder die goedkeuring van die komiteelede, voordat dit by die hof ingedien is.

Die komiteelede voer verder aan dat ongemagtigde lede, wat nie as komiteelede verkies is nie, die resolusie onderteken het wat Beukes saam met sy aansoek by die hof ingedien het.

“Die uitvoerende komitee sal nie aanspreeklik gehou word in enige siviele litigasie as gevolg van hierdie onwettige optrede van mnr. Willem Beukes nie.”

OPTOG IN 2014

Die bewerings van diskriminasie teen SWATF-lede en Koevoetvegters is geen nuwe verskynsel nie.

In November 2014 het die Namibia War Veterans Trust (Namvet) ’n vreedsame optog uitgevoer vanaf Oshakati na die Okankete-dorpie naby Ondangwa. Die optog was gefokus op voormalige SWATF-lede wat ontevrede is dat die regering teen hulle diskrimineer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer