Volbank oorweeg Fishrot-appèl oor

Drietal regters se beslissing voorbehou
Shanghala, Hatuikulipi en vier ander se appèl teen die weiering van borgtog dien voor die hoogste hof.
Augetto Graig
’n Volbank regters van die hooggeregshof, bestaande uit regters Theo Frank, Jeremiah Shongwe en Kananelo Mosito, het gister in Windhoek die gewese minister van justisie, Sacky Shanghala en vyf ander beskuldigdes se appèl teen die weiering van verskeie borgtogaansoeke voortgesit.

Shanghala en sy medebeskuldigdes James Hatuikulipi, Pius Mwatelulo, Mike Nghipunya, Otneel Shuudifonya en Phillipus Mwapopi staan tereg op bedrog, korrupsie, geldwassery en rampokkery in die voortslepende Fishrot-korrupsiesage.

Shanghala en Hatuikulipi is in November 2019 in hegtenis geneem, met die res kort daarna.

Shanghala, Hatuikulipi en Mwatelulo is gister deur adv. Vas Soni verteenwoordig, met adv. Thabang Phatela wat Nghipunya, Shuudifonya en Mwapopi se saak verdedig het.

Soni het uitgelig die beskuldigdes was reeds twee jaar agter tralies toe die eerste aansoek om borgtog van die hand gewys is, en dat die weiering teen die Grondwet en hul reg tot ’n spoedige verhoor is.

Hy het na artikel 12 van die Grondwet verwys, spesifiek afdeling 1B wat voorskryf ’n verhoor moet binne ’n redelike tydperk plaasvind, andersins moet die beskuldigde vrygelaat word.

Mosito het gesê dié bepaling sou slegs van toepassing wees indien die vertragings onredelik was, terwyl Frank uitgebrei het dit sou beteken die beskuldigdes ook vervolging sou vryspring. Soni het gesê hulle soek bloot borgtog en nie dat die hele saak uitgegooi word nie.

Verder sê die advokaat die ondersoek na klagte van geldwassery en rampokkery is onregmatig deur die Teenkorrupsiekommissie van Namibiê (ACC) se ondersoekbeamptes uitgevoer; dat die klagte verwerp moet word en dat die erns van die saak teen sy kliënte sodoende verminder.

“Korrupsie bly steeds ’n ernstige klag, wat ons aanvaar,” sê hy.

Hy betwis ook die hof se vorige verwagting dat die beskuldigdes die onus moet dra om borgtog te regverdig.

Op sy beurt het Phatela veral klem op die vordering van openbare belang gelê. “Dis nie in openbare belang bloot omdat ’n persoon van korrupsie beskuldig word, hulle agter tralies vergeet moet word nie,” sê hy.

“Die gedagte van openbare belang beteken dat mense wat beskuldig word ingevolge die wet behandel word.”

Phatela dring aan dat die vlak van aandag in die sosiale media nie as ’n rede kan dien om iemand sy vryheid te weerhou nie en dat straf voor verhoor en die publiek se genieting daarvan nie redes kan wees om borgtog te weier nie.

Hy het na die Bybelse verhaal verwys waarin die skare uitgeroep het: “Kruisig Hom!”

Namens die staat het adv. Cliff Lutibezi aangedring dat die beskuldigdes reeds met die verloop van die regsproses probeer inmeng het, en dit sonder oponthoud weer sou doen indien hulle op vrye voet sou wees. Spesifiek het hy verwys na die klag van omkopery van N$250 000 wat die ACC teen Hatuikulipi ingedien het, asook na boodskappe op Shanghala se selfoon wat in die tronk afgeneem is, wat dui hy was besig om vervalste dokumente te laat opstel.

Lutibezi sê daar is oorgenoeg bewyse van inmenging wat reeds voor die hof gebring is.

Hy noem ook die slinkse manier waarop inligting van tronkbewaarders versteek is. “Hierdie persoon (Hatuikulipi) het geen respek vir die reg nie.”

Oor oudminister Shanghala sê die advokaat: “Hy ken die wet,” en dat Shanghala tevore spesifiek navorsing oor Dubai se uitleweringsproses gedoen het.

Bewysstukke voor die hof dui dat N$4,1 miljoen na Dubai oorbetaal is en dat dié geld steeds vermis is; dit dui op Shanghala se voorneme om op die vlug te slaan, het Lutibezi gesê.

Frank het ná die laaste argumente deur Soni en Phatela gesê die volbank sal die kwessies oorweeg en sal later aandui wanneer uitspraak gelewer sal word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!