Die moordbeskuldigde Lolo Kambwela (regs), saam met sy prokureur en die hof se tolk (links). Foto argief/Kristien Kruger
Die moordbeskuldigde Lolo Kambwela (regs), saam met sy prokureur en die hof se tolk (links). Foto argief/Kristien Kruger

Vrou 51 keer gesteek, polisiesersant getuig

Rita Kakelo
’n Man wat na bewering sy 19-jarige meisie 51 keer gesteek en haar lewelose liggaam weggesteek het, het glo erken dat hy dit gedoen het.

Só het sersant Emmietjie Katupose gister in die hoërhof in Windhoek voor regter Claudia Claasen getuig.

Sy het getuig die man, Lolo Kambwela (32), het homself vrywillig by die Otjiwarongo-polisiekantoor oorgegee en het na bewering gesê hy het sy meisie, Nghimushima Haufiku (19), aangerand.

Kambwela het egter aan die begin van sy verhoor, by monde van sy regsverteenwoordiger, Kenneth Siambango, onskuldig gepleit op die aanklagte van moord en dwarsboming van die gereg wat teen hom gebring is.

Kambwela het Haufiku na bewering op 13 Februarie 2022 in die informele nedersetting DRC by Otjiwarongo doodgesteek.

“Hy [Kambwela] het na die polisiekantoor gekom en gesê ons moet hom arresteer. Hy het aan ons erken dat hy in ’n rusie met Haufiku betrokke was, waarna hy bevestig het dat hy haar erg geslaan het,” het Katupose getuig.

Sy het gesê sy het Kambwela ingelig dat geen saak deur Haufiku of enigiemand anders teen hom aanhangig gemaak is nie en daarom kan hy nie in hegtenis geneem word nie. Nadat hy verder ondervra is, het Kambwela sy meisie se naam verskaf.

Kort nadat Kambwela by die polisiekantoor aangekom het, het Katupose getuig dat haar kollega ’n oproep ontvang het van ’n lid van die publiek wat ’n saak van geslagsgebaseerde geweld in die DRC-nedersetting wou aanmeld.

Volgens Katupose het die persoon wat die polisiekantoor gebel het ook gesê die verdagte het weggehardloop en het spoorloos verdwyn.

“Ons het in daardie stadium geen rede gehad om te glo dat daardie situasie met Kamwela s’n verband hou nie,” het sy getuig.

Katupose en twee ander polisiebeamptes het glo na die DRC gery om die wenk op te volg en was van plan om Kambwela se situasie daarna op te volg.

Toe hulle by die toneel aankom, het Katupose die slagoffer se naam gevra en verneem dat dit dieselfde persoon was wat volgens Kambwela sy meisie was toe hy homself aan die polisie wou oorhandig.



NADOODSE ONDERSOEK

Dr. Mamadi Guriras het Maandag namens dr. Cesar Arzuaga, wat die nadoodse ondersoek op Haufiku uitgevoer het, getuig aangesien Arzuaga op ’n kontrakbasis in Namibië gewerk en sedertdien na Kuba teruggekeer het.

Guriras het aangedui dat die verslag van die nadoodse ondersoek nie aandui watter wond tot Haufiku se dood gelei het nie, maar het bevestig dat sy verskeie kere in haar nek en rug met ’n skerp voorwerp gesteek is.

“Die verslag dui aan dat Haufiku se organe bleek was en dat sy hipovolemiese skok opgedoen het van steekwonde aan haar bors,” het Guriras gesê.

’n Verdedigingswond is ook op Haufiku se pols opgemerk, waar die senings afgesny is.

Guriras het verduidelik dat verdedigingswonde geïdentifiseer word deur waar dit voorkom en dat dit gewoonlik opgedoen word wanneer ’n persoon probeer om hulself teen ’n aanvaller te beskerm.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!