Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief
Die hoërhof in Windhoek. Foto Argief

Vrou lewend verbrand

Man gooi glo petrol oor meisie
Die beskuldigde het gister onskuldig gepleit op een klag van moord en twee klagte van poging tot moord.
Kristien Kruger
’n Man van Ariamsvlei wat in 2020 na bewering petrol oor sy meisie gegooi en haar aan die brand gesteek het, se verhoor het gister in die hoërhof in Windhoek begin.

’n Staatsgetuie het getuig hoe die oorledene in vlamme gehul na haar toe aangehardloop gekom het.

Hul 13 maande oue babadogter was in die vrou se arms toe die beskuldigde, mnr. Manfred Links (32), glo petrol oor hulle gegooi en aan die brand gesteek het.

Links en sy meisie, wyle Michelle Roelph, het na bewering op Nuwejaarsdag 2020 baklei en sy het hom glo met ’n skêr gesteek.

Die staat beweer hy het daarna petrol gaan koop met die voorneme om haar later die dag aan die brand te steek en dat hy sy plan omstreeks 10:00 uitgevoer het.

Roelph het op 12 Januarie aan haar beserings in ’n hospitaal op Keetmanshoop beswyk.

Roelph kon daarin slaag om hul baba op die vloer neer te gooi voordat sy aan die brand gesteek is en die babameisie het oorleef.

Links het gister onskuldig gepleit op die drie klagte waarop hy teregstaan – een klag van moord en twee klagte van poging tot moord.

GETUIES

Links het glo tussen 12:00 en 14:00 op die betrokke dag petrol by ’n vulstasie gekoop.

Volgens ’n werknemer by die vulstasie – wat gister vir die staat getuig het – het hy vir hom gesê die petrol is om sy meisie aan die brand te steek.

Mnr. Milton Engelbrecht, Links se regsverteenwoordiger, het namens hom ontken dat hy dit gesê het.

Een van die staatsgetuies wat gister getuig het, het gesê sy het water oor die brandende vrou gegooi en haar in die huis gehelp en met ’n kombers bedek.

Sy was die aand in ’n huis oorkant Links se huis en het uitgekom toe sy petrol geruik het. Sy het Roelph glo gevra wat so ruik en sy het vir haar gesê dat Links petrol oor haar gegooi het en dat sy die polisie moet bel.

Die getuie het glo haar rug op die paartjie gedraai om ’n ander buurvrou te vra om die polisie te bel en toe sy terugkyk, was Roelph “in vlamme gehul”.

Sy het verder getuig Links het agter haar aangehardloop en haar geskop, waarna sy op die grond neergeval het.

“Dit het gelyk asof hy haar probeer verwurg,” het sy getuig.

Sy en die ander buurvrou het water oor Roelph gegooi en haar in die huis gehelp.

Volgens haar het Links gevlug, maar het later teruggekom, gehuil en gesmeek om sy meisie te sien.

’n Familielid van Links het ook die getuiebank ingeneem en getuig Links het die dag ná die voorval aan haar erken dat hy Roelph aan die brand gesteek het.

“Ek het petrol oor haar gegooi en haar aan die brand gesteek,” het Links glo vir haar gesê.

Links het weer eens by monde van Engelbrecht ook dié bewering ontken.

’n Vriend van Links het ook gister vir die staat getuig.

Volgens sy getuienis het hy Links by ’n sjebeen gesien ná die voorval plaasgevind het.

“Ek het moeilikheid by die huis gemaak,” het Links glo vir hom gesê terwyl hy gehuil het.

Die man het glo ’n polisieman wat naby hulle gestaan het, gevra om te gaan kyk wat gebeur het.

VERHOOR DUUR VOORT

Die verhoor sal vandag voor regter Christie Liebenberg voortduur met die staat wat nog getuies sal roep.

Links bly in aanhouding by die Windhoek Sentrale Gevangenis.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!