• Tuisblad
  • Howe
  • Vrou misluk in jarelange stryd om Namibiese ID
Foto argief
Foto argief

Vrou misluk in jarelange stryd om Namibiese ID

Hofaansoek van die hand gewys
Die 54-jarige vrou voer aan dat sy in Namibië gebore is; die hof het egter beslis dat sy nie genoeg bewyse gelewer het om dit te bewys nie.
Kristien Kruger
Die hof het beslis dat ’n vrou wat reeds meer as 30 jaar sukkel om ’n Namibiese identiteitsdokument (ID) te kry ten spyte van haar bewerings dat sy in Namibië gebore is en ’n volledige geboortesertifikaat aan haar uitgereik is, nie kon bewys dat sy wel hier gebore is nie.

Die hoërhof in Windhoek het Vrydag uitspraak gelewer in ’n aansoek wat Florence Sibanda (54) teen die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, asook die president van Namibië, aanhangig gemaak het.

Sibanda beweer dat sy in 1969 in die informele nedersetting Sabelo in die Zambezistreek gebore is en het in die hofsaak aangevoer dat sy benadeel word deurdat sy ’n Namibiese ID geweier word.

“Sy kan nie ’n bankrekening oopmaak, haar MTC-simkaart registreer, haar eiendom verkoop of toegang tot haar pensioen by die GIPF kry nie,” lui die hofstukke.

Die minister het aangevoer dat sy ’n Zimbabwiese burger is en daarom nie in aanmerking kan kom vir ’n Namibiese ID nie en dat die hof dus nie ’n bevel kan uitreik wat hom of enige van sy beamptes opdrag gee om so ’n dokument aan haar uit te reik nie.

In sy uitspraak het regter Nate Nauendapo beslis dat sy nie in aanmerking kan kom vir ’n Namibiese ID nie.

“Op die feite van hierdie saak het die applikant [Sibanda] nie die onus nagekom om te bewys dat sy in Namibië gebore is en daarop geregtig is dat ’n Namibiese ID aan haar uitgereik word nie,” lui die uitspraak.

’N UITGEREKTE PROSES

Sibanda se pa het glo in Namibië vir ’n Zimbabwiese maatskappy gewerk wat huise in Katima Mulilo gebou het.

In dié tyd het hy glo Sibanda se ma ontmoet en Sibanda beweer dat sy in dié tydperk in Namibië gebore is.

Nadat haar pa se werksprojek voltooi is, het die gesin na Zimbabwe teruggekeer. In 1985 het Sibanda en haar ma glo na Namibië teruggekeer.

Sy erken haar geboorte is nie destyds geregistreer nie. Haar skool het egter in 1987 vereis dat sy identiteitsdokumente aan hulle voorsien. Kort daarna is ’n Suidwes-Afrika (SWA) ID glo deur die ministerie aan haar uitgereik.

Sy beweer dat sy ná onafhanklikwording teruggegaan het na die ministerie se kantoor om ’n Namibiese ID te kry, maar is ingelig om ’n volledige geboortesertifikaat in te dien asook’n verklaring van die nedersetting se hoofman om te bevestig dat sy wel in Namibië gebore is.

Sy het later die verklaring en haar doopsertifikaat (baptism certificate) aan die ministerie verskaf en ’n verkorte geboortesertifikaat is glo in 1994 aan haar uitgereik.

Sy het dit saam met die doopsertifikaat en verklaring van die hoofman na die ministerie se hoofkantoor in Windhoek geneem in ’n poging om ’n Namibiese ID te kry. Haar aansoek is ingedien, maar is in 1997 in kennis gestel dat dit onsuksesvol was.

Die ministerie het haar ingelig dat ’n ID nie aan haar uitgereik kon word nie aangesien die stelsel toon dat sy nie ’n Namibiese burger is nie en in Bulawayo, Zimbabwe, gebore is.

Sy het daarna die hulp van die Zimbabwiese ambassade ingeroep en hulle het ’n brief uitgereik wat bevestig het dat sy nie in Zimbabwe gebore is nie. Sy het in 2005 weer eens ’n aansoek by die ministerie ingedien, maar dit was weer om dieselfde rede van die hand gewys.

In 2021 het sy aansoek vir ’n volledige geboortesertifikaat gedoen en het dit in Maart 2021 ontvang.

Sy het daarmee weer eens in Februarie 2023 aansoek vir ’n Namibiese ID gedoen, maar is ingelig dat die uitreiking van die volledige geboortesertifikaat ’n fout was omdat sy nie ’n Namibiese burger is nie.

‘DIT WAS ’N FOUT’

Die ministerie het tydens die hofaansoek aangevoer dat die uitreiking van die geboortesertifikaat aan Sibanda 'n fout was.

Sibanda se regsverteenwoordiger het tydens die verrigtinge aangevoer dat die ministerie nie nou hul besluit kan terugtrek om haar van ’n volle geboortesertifikaat te voorsien nie.

Hy het ook beweer dat Sibanda nie ’n geleentheid gegun is om aangehoor te word voor die besluit geneem is nie.

“Die eerste respondent [ministerie] het eerder die applikant [Sibanda] onderwerp aan jare se onnodige heen en weer en herroep dan arbitrêr, onbillik en onregmatig sy besluit om ’n geldige geboortesertifikaat aan haar uit te reik,” lui die hofstukke.

UITSPRAAK

In sy uitspraak het Ndauendapo daarop gewys dat die onus op Sibanda val om te bewys dat sy wel in Namibië gebore is.

“Die aansoek om ’n Namibiese ID het ’n gebrek aan wesenlike bewyse ter ondersteuning van haar bewering dat sy wel in die Zambezistreek gebore is. Dit is net haar sê-so wat voor hierdie hof is,” het Ndauendapo gesê.

Hy het bygevoeg dat daar geen ondersteunende verklarings ingedien is om Sibanda se bewerings te staaf nie.

“Dié beëdigde verklarings sou haar saak versterk het vir ’n Namibiese ID om aan haar uitgereik te word.”

Die aansoek is van die hand gewys en ingevolge die hofbevel moet Sibanda die respondente se regskostes vir die aansoek betaal.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!