Vroueregters maak geskiedenis

Kristien Kruger
’n Volbank van drie vroueregters het verlede week vir die eerste keer in Namibiese geskiedenis ’n appèlsaak in die Windhoek se hooggeregshof aangehoor.

Twee van die drie, Hannelie Prinsloo en Esi Schimming-Chase, is plaaslike regters. Die trio word voltooi deur Rita Makarau, ’n Zimbabwiese regter wat in Junie vanjaar as waarnemende regter van die hooggeregshof aangestel is.

Ná Makarua se aanstelling het die Regterlike Dienskommissie ’n mediaverklaring uitgereik wat sê die doel van haar aanstelling was om as mentor vir Prinsloo en Schimming-Chase op te tree, aangesien sy ’n gesoute regter is.

Regterpresident Peter Shivute het ook destyds benadruk dat die aanstelling van die vroue ’n doelbewuste stap was om vroulike verteenwoordiging op die hooggeregshofbank te bevorder.

“Die gebrek aan vroue se verteenwoordiging op die hooggeregshof se bank is ’n bron van groot kommer en die kommissie het onderneem om hierdie kwessie ernstig aan te roer.

“Vir hierdie doel en in ’n poging om die hooggeregshof se werkslading te verlig, het die kommissie besluit om die aanstelling van drie waarnemende vroueregters aan te beveel om op die hooggeregshof se bank te dien vir die tydperk 1 April 2023 tot 31 Maart 2024,” het die Regterlike Dienskommissie na die vroue se aanstelling gesê.

MEDIA UITGENOOI

Die media is genooi om verlede week se verrigtinge by te woon en spesiale vergunning is gemaak dat foto’s tydens die eerste 10 minute van die hofsitting geneem kon word.

“Dit is 'n geskiedkundige oomblik vir ons jurisdiksie, aangesien dit die eerste keer is wat ’n hooggeregshofbank wat slegs uit vroue bestaan ’n saak sal aanhoor,” het die kantoor van die regbank in sy uitnodiging gesê.

APPÈLSAAK

Die appèlsaak wat die drie vroueregters aanhoor, is gebring deur Hewat Beukes teen die Namibiese president en tien ander respondente.

Dit volg nadat die griffier van die hooggeregshof in 2001 ’n verstekvonnisbevel uitgereik het teen die appellante wat binne gemeenskap van goedere getroud is en geregistreerde eienaars van ’n erf in Khomasdal was. Die genoemde verstekvonnis is vervolgens opgevolg deur ’n hofbevel wat die onroerende eiendom spesiaal uitvoerbaar [specially executable] verklaar het – wat beteken dat dit in eksekusie verkoop kan word.

Na aanleiding van bogenoemde hofbevel het die appellante in 2014 ’n aansoek by die hoërhof aanhangig gemaak in ’n poging om die bevele wat deur die griffier uitgereik is, tersyde te stel. Hulle aansoek is egter van die hand gewys en daarom het hulle die hooggeregshof genader om die beslissing uit te daag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer