Vuurwapenklagte glo ’n heksejag

Saak uitgestel tot 10 Junie
Komm. Andreas Nelumbu eis N$2 miljoen se skadevergoeding vir die skending van sy reg op waardigheid en privaatheid.
Rita Kakelo
Die lasbriewe wat in 2022 uitgereik is om sy eiendomme in Windhoek, Mpungu en Okatana te deursoek, ná bewerings van vermiste vuurwapens en ammunisie, is kwaadwillig bekom sonder ’n waarskynlike oorsaak.

So beweer die hoof van die direktoraat logistiek en verkryging in die Namibiese polisie (Nampol), komm. Andreas Nelumbu.

“Sedert ek my pligte in 2011 begin het, was daar gereelde jaarlikse inspeksies van alle polisie-eiendomme en -bates, insluitend vuurwapens. Tot op hede het ek die afgelope 11 jaar geen negatiewe verslae ontvang nie,” het hy in verklarings aan die hoërhof gesê.

Die soektog in September 2022, in opdrag van generaal Joseph Shikongo, die destydse adjunk-inspekteur-generaal van Nampol, was onsuksesvol aangesien geen vuurwapens, ammunisie, of gesteelde polisie-eiendom op Nelumbu se perseel gevind is nie.

Volgens Nelumbu se eisbesonderhede, kom die aanklagte van diefstal en handel in vuurwapens en ammunisie, saam met die waarskuwingsverklaring wat deur komm. George Mhoney en komm. Sydney Philander gebring is, neer op ’n heksejag en viktimisasie.

‘GEBREK AAN BEWYSE’

Sebastian Ndeitunga, die destydse inspekteur-generaal van Nampol, het in sy getuieverklaring wat hy in September 2023 afgelê het, onthul toe hy van verlof af teruggekeer het, het hy ’n verslag van Shikongo ontvang wat aangedui het dat sommige vuurwapens uit die kluis van die polisie se wapenafdeling in die sentrale depot vermis word.

“Ek het ’n komitee opdrag gegee om ’n ondersoek van stapel te stuur. Die komitee het aan my teruggerapporteer met hul voornemens om Nelumbu aan te kla. Ek het nie beswaar hierteen gemaak nie, maar ek het hulle gevra om hul bewyse teen hom voor te lê," het Ndeitunga gesê.

Volgens Ndeitunga is daar tot sy aftrede in Augustus 2022 geen bewyse gebring om die kommissaris by die beweerde misdaad te betrek nie.

Hy het ook gesê dat hy tydens sy ampstermyn as inspekteur-generaal Nelumbu geken het as ’n hardwerkende, gedissiplineerde en eerlike mens, met geen geskiedenis van wangedrag by die werk nie.

Nelumbu het regstappe teen die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit aanhangig gemaak sowel as Shikongo in sy hoedanigheid as inspekteur-generaal.

Hy eis N$2 miljoen se deliktuele skadevergoeding, alternatiewelik grondwetlike skadevergoeding, vir die skending van sy reg op waardigheid en privaatheid, teen 20%-rente per jaar vanaf die datum van uitspraak tot die laaste dag van betaling, tesame met sy regskoste. Die saak is tot 10 Julie 2024 uitgestel vir die aanhoor van finale betoë.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer