Waar is die bewyse? vra Namandje

Uitspraak geskeduleer vir Mei
Partye het gister argumente gelewer in die saak waarin Harvey Boulter eis dat die aanklaer-generaal se besluit om hom te vervolg, tersyde gestel moet word.
Kristien Kruger
“Daar is geen bewyse in die dossier dat hy [Harvey Boulter] die oorledene geskiet het met die doel om hom dood te maak nie. Hy het nie die vuurwapen met opset afgevuur nie.”

So het die Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boulter, se prokureur, Sisa Namandje, gister in die hoërhof in Windhoek gesê in die saak waarin Boulter die aanklaer-generaal (AG) se besluit uitdaag om hom te vervolg op klagte van onder andere moord.

Boulter se regspan beweer die skoot het tydens ’n gestoei tussen hom en die oorledene, Gerhard van Wyk (sr.), afgegaan. Die onderonsie het begin nadat Boulter glo iets onvanpas vir Van Wyk se skoondogter gesê het, waarna sy seun, Gerhard (jr.), met Boulter begin baklei het en Van Wyk (sr.) glo ingetree het.

Die AG, adv. Martha Imalwa, se verteenwoordiger, adv. Daniel Small, het tydens sy betoë die kwessie van die geweer se veiligheidsknip onder die loep gebring.

“Die aansoeker [Boulter] het nooit iets gesê oor hoe of wanneer die veiligheidsknip van die geweer afgesit is nie. Volgens bewyse het hy waarskynlik met ’n oorgehaalde geweer rondgeloop, die geweer se veiligheidsknip afgesit óf met die geweer in sy holster geloop met die veiligheidsknip wat reeds af was.”

Small, tesame met Veiko Alexander, en Namandje, tesame met Kadhila Amoomo, het gister hulle hoofbetoë voor regter Herman Oosthuizen gelewer en hy het sy uitspraak vir 17 Mei geskeduleer.

BESLUIT UITGEDAAG

In die saak voer Boulter aan dat Imalwa die verkeerde besluit geneem het om hom te vervolg en eis dat haar besluit hersien en tersyde gestel moet word.

“Die meeste beskuldigdes wat werklik in hul onskuld glo of dat die staat sal sukkel om hul skuld te bewys, sal tipies hul verhoor binne ’n redelike tyd wil afhandel,” het Small in sy geskrewe slotbetoë gesê en bygevoeg dit is ongewoon vir beskuldigdes om ’n saak teen Imalwa te bring.

Namandje het beklemtoon die besluit om iemand te vervolg, kan ’n groot impak op iemand se lewe hê en moet daarom nie ligtelik opgeneem word nie.

“Die aanklaer-generaal het ’n plig om die besluit te neem om nie te vervolg nie, waar daar nie genoegsame rede (probable cause) is nie,” het Namandje aangevoer.

Namandje het verder daarop gewys dat die AG volgens die Grondwet aangestel word en Imalwa daarom ingevolge die bepalings van die Grondwet moet optree.

Sy moet regverdig, rasioneel en redelik optree, beweer Namandje.

“Ons sê nie sy moet perfek wees nie, maar sy moet na alles kyk en oorweeg voor sy ’n besluit neem.”

Small het benadruk dat Imalwa al die bewyse oorweeg en haar diskresie gebruik om ’n besluit te neem.

“Dit is nie so eenvoudig om te sê sy het nie haar diskresie korrek uitgeoefen nie. Getuies het verskillende weergawes en hierdie saak het talle betwisbare feite. Sy het die feite noukeurig oorweeg voor sy besluit het.”

HERSIENBAAR OF NIE?

Namandje het aangevoer dat Imalwa se besluite nie immuun kan wees vir hersiening nie.

Hoewel Small aanvanklik aangevoer het dat Imalwa se besluit om iemand wat van ’n misdaad beskuldig word in ’n strafhof te vervolg, nie deur ’n siviele hof hersienbaar behoort te wees nie, het hy gister toegegee dat indien daar geen bewyse is nie, dit moontlik hersien kan word om kwaadwillige of ongegronde vervolging te vermy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 29° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 35° Oshakati: 26° | 35° Ruacana: 20° | 36° Tsumeb: 21° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 18° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 22° | 32° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 18° | 37° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 14° | 30° Ariamsvlei: 19° | 37° Oranjemund: 14° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 34° Lubumbashi: 17° | 20° Mbabane: 15° | 27° Maseru: 19° | 33° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 18° | 21° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 23° Durban: 22° | 26° Johannesburg: 20° | 31° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 20° Harare: 17° | 23° #REF! #REF!