Dr. Luis Charles Araujo de Sá saam met sy oorlede vrou, dr. Natale Gontijo-de-Amorim. FOTO ARGIEF
Dr. Luis Charles Araujo de Sá saam met sy oorlede vrou, dr. Natale Gontijo-de-Amorim. FOTO ARGIEF

Waar is die dokter nou?

Motorongeluk in 2024 eis nege lewens
As deel van sy borgtogvoorwaardes het die landdros gesê as die beskuldigde om mediese redes na die buiteland moet reis, kan hy dit doen solank hy besonderhede van sy afspraak aan die Namibiese polisie verskaf.
Rita Kakelo
Die Brasiliaanse dokter, dr. Luis Charles Araujo de Sá (59), wat aanklagte van strafbare manslag en roekelose bestuur in die gesig staar, se saak is laat verlede jaar tydens ’n hofverskyning tot 22 Mei 2025 vir verdere ondersoek uitgestel.

Doreen Lyambo van die regsfirma Metcalfe Beukes Attorneys het Maandag namens De Sá aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat hy soos geskeduleer op 6 Desember 2024 in die landdroshof op Otavi verskyn het.

De Sá was in Junie 2024 in ’n noodlottige ongeluk naby Otavi betrokke wat die lewens van sy vrou, dr. Natale Gontijo-de-Amorim, en ook dié van agt Namibiërs geëis het.

Landdros Ounjandere Ndjiharine het borgtog van N$150 000 aan hom toegestaan en hom beveel om in Namibië te bly tot sy saak afgehandel is.

As deel van sy borgtogvoorwaardes het Ndjiharine egter aan De Sá gesê as hy om mediese redes na die buiteland moet reis, kan hy dit doen solank hy besonderhede van sy afspraak aan die Namibiese polisie verskaf.

Dié voorwaarde is egter deur die families van die Namibiese slagoffers gekritiseer wat beweer het De Sá kan so maklik uit die land vlug om vervolging vry te spring.

In September verlede jaar en voor sy hofverskyning op 6 Desember, wou nóg sy regsverteenwoordiger nóg die polisie op Otavi besonderhede aan NMH verskaf oor waar De Sá hom bevind.

Lyambo het egter later ná sy hofverskyning in Desember bevestig hy het weer die land verlaat, maar het nie besonderhede oor sy bestemming verskaf nie.

Op ’n vraag of De Sá steeds in Namibië is, het Lyambo gesê: “My kliënt sal terugkeer vir sy volgende verskyning.”

Die staat word deur aanklaer Elana Doeses verteenwoordig. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer