• Tuisblad
  • Howe
  • Walters faal in hofgeding oor jonges in selle

Walters faal in hofgeding oor jonges in selle

Aansoek van die hand gewys
'n Hofsake waarin die voormalige ombudsman die geslagsgelykheidminister hof toe gesleep het, is Dinsdag afgehandel met 'n uitspraak ten gunste van die minister.
Kristien Kruger
Die voormalige ombudsman, adv. John Walters, se hofaansoek teen die ministerie in die presidensie verantwoordelik vir geslagsgelykheid, armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn is Dinsdag in die hoërhof in Windhoek geweier.

Hy het in die hofaansoek geëis dat minderjariges uit polisieselle verwyder word omdat hulle volgens die wet op kindersorg en beskerming in aparte, veilige sentrums aangehou moet word.

Walters het die dringende aansoek in Desember 2020 gebring en was daar, volgens sy verklaring, 32 minderjariges in polisieaanhoudingselle oraloor die land, ’n skending van hul regte op grond van hoofstuk 6 van die wet op kindersorg en beskerming.

“Ek bring hierdie aansoek om twee dinge te bereik. Eerstens, om kinders wat tans in aanhouding is, vrygelaat te kry en tweedens, om die minister te dwing om toepaslike plekke van veiligheid en/of aanhoudingsentrums vir kinders op te rig of te identifiseer, nes sy statutêr verplig is om te doen,” lui Walters se verklaring.

“Die minister se weiering om plekke van veiligheid en aanhoudingsentrums vir kinders te vestig, is nie net ’n versuim van haar statutêre plig nie, maar haar gedrag is beslis nie in die beste belang van die kinders wat tans in polisieaanhouding is nie, aangesien hulle blootgestel word aan moeilike omstandighede wat nadelige gevolge op hul ontwikkeling kan hê.”

Die minister, me. Doreen Sioka, het beweer die aanhouding van minderjariges is nie in die ministerie se hande nie, maar in dié van die howe.

Sy het verder aangevoer die wet het eers in Januarie 2019 in werking getree en hulle het nie die finansiële of menslike hulpbronne om binne ’n jaar al hul wetlike verpligtinge na te kom nie.

“Minderjarige oortreders word na polisieaanhouding gestuur aangesien die landdroshowe dit nodig geag het omdat daar nog geen aanhoudingsentrums opgerig is nie. Dit was nie vir die ministerie moontlik om al die verpligtinge met betrekking tot die wet binne een finansiële jaar na te kom nie,” lui Sioka se verklaring.

Sioka het versoek dat die aansoek, met koste, van die hand gewys word.

Walters is van mening die tekort aan tyd gee nie toestemming om kinders se regte te skend nie.

WALTERS SE EISE

Walters het in sy dringende aansoek geëis dat die minderjariges in aanhouding binne 48 uur vrygelaat moet word en die nodige sentrums voor Februarie 2021 landswyd gebou word.

“Ek kan nie waarborg dat die sentrums voor Februarie opgerig sal word nie. Die minderjariges sal nêrens hê om heen te gaan wanneer hul vrygelaat word nie, want daar is nog geen sentrums opgerig nie,” het Sioka destyds in haar antwoordende verklaring gesê.

SAAK VAN ROL GESKRAP

Regter Nate Ndauendapo het Dinsdag Walters se aansoek van die hand gewys en beslis daar sal geen kostebevel wees nie. Die saak is afgehandel en van die rol geskrap.

Die redes vir die uitspraak is nog nie op die hof se elektroniese stelsel beskikbaar nie.

Die ander respondente in die saak sluit in die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie en die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, asook 16 stasiebevelvoerders oraloor Namibië.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!