• Tuisblad
  • Howe
  • Weermaglede borgtog geweier ná ‘stropery’
BAIL DENIED: The three NDF members accused of poaching were denied bail in the Rundu magistrate’s court. Photo Nikanor Nangolo
BAIL DENIED: The three NDF members accused of poaching were denied bail in the Rundu magistrate’s court. Photo Nikanor Nangolo

Weermaglede borgtog geweier ná ‘stropery’

Jag glo sonder permitte
Die weermaglede het na bewering 'n koedoe, eland en wildebees met 'n dienswapen geskiet.
Nikanor Nangolo
Drie lede van die Namibiese weermag (NDF) wat van stropery beskuldig word, is borgtog geweier ná hul eerste verskyning gister in die landdroshof op Rundu.

Richard Kasoma, Paulus Iipinge en David Aishe het voor landdros Sonia Samupofu verskyn, wat die saak vir verdere ondersoek tot 7 Mei uitgestel het. Die staatsaanklaer Michael Munika het borgtog op grond van openbare belang en die vrees vir inmenging met die ondersoek teengestaan.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Romeo Muyunda, is die verdagtes Vrydag omstreeks 08:00 in die Mangetti Nasionale Park in hegtenis geneem.

“Beamptes van die park was besig met ’n roetine-patrollie teen stropery en die inspeksie van die Mangetti Nasionale Park se heining toe hulle drie NDF-lede betrap het met sakke vol gedroogte wildsvleis van eland, koedoe en gemsbok waarvoor hulle geen permitte gehad het nie,” sê Muyunda.

Ten spyte van pogings om te ontsnap, is die drie vasgetrek en bevind dat hulle geen permitte vir die wildsvleis gehad het nie.

Die weermaglede het na bewering die koedoe, eland en wildebees met ’n waarde van N$22 450 met ’n dienswapen geskiet.

“Dit is onverstaanbaar en teleurstellend dat dié wat ons wildlewe en natuurlike hulpbronne moet beskerm, diegene is wat dit plunder. Daar is geen twyfel dat gewapende magte ’n integrale deel is in die stryd teen wildmisdaad nie. Ons ervaar egter situasies waar individue hierdie verantwoordelikheid ligtelik opneem en by onwettige aktiwiteite in ons nasionale parke betrokke raak. Ons veroordeel dit en loof ons personeel wat waaksaam was en die verdagtes vasgetrek het,” het Muyunda gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer