Marieta Wilhelm
Marieta Wilhelm

Wilhelm se saak wéér uitgestel

Ondersoek nog nie voltooi
Die saak van die bejaarde vroueboer me. Marieta Wilhelm is vir die derde opeenvolgende week uitgestel.
Kristien Kruger
Die saak waarin ’n 65-jarige vroueboer ’n man op haar plaas doodgemaak het nadat hy haar glo aangerand het, is Donderdag opnuut uitgestel aangesien die ondersoek nog nie afgehandel is nie.

Me. Marieta Wilhelm het op 15 Maart na bewering daarin geslaag om haar aanvaller op die plaas Fokshof in die Maroelaboom-omgewing naby Grootfontein tydens ’n struweling met ’n hamer teen die kop te slaan.

Wilhelm beweer die aanvaller het haar langs die huis ingewag. Sy sê sy het uitgegaan om vir haar honde kos te gee en toe sy weer in die huis wou ingaan, het die aanvaller haar van agter met ’n houtstomp aangeval.

Wilhelm het Donderdag weer in die landdroshof op die dorp verskyn waartydens die saak vir die derde opeenvolgende week om dieselfde rede uitgestel is.

Eers sodra die ondersoek klaar is, kan die dossier aan die aanklaer-generaal oorhandig word, wat dan sal besluit of Wilhelm aangekla moet word en op watter klagte sy tereg sal staan.

Die Suid-Afrikaanse aktivis teen plaasaanvalle, mnr. Willem Petzer, het ’n regshulpfonds vir Wilhelm gestig en betaal haar regskoste.

Wilhelm is vry op borgtog van N$10 000 op voorwaardes dat sy haar reisdokumente inhandig, nie die land verlaat nie en ook nie aansoek vir nuwe reisdokumente sal doen nie.

Sy moet ook elke Vrydag by ’n polisiekantoor aanmeld en die ondersoekbeampte in kennis stel as sy die Tsumeb-Grootfontein-Otavi-distrik verlaat.

Sy word deur mnr. Jan Wessels verteenwoordig.

̶ [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer