Windhoek-gevangenis in sop oor ‘martelsessies’
Sewe mans in aanhouding eis elk N$1,5 miljoen
Twintig lede van die Namibiese Korrektiewe Dienste is hof toe gesleep vir die beweerde aanranding van beskuldigdes in aanhouding.
Kristien Kruger – Sewe mans wat in die Windhoek Sentrale Gevangenis aangehou word, beskuldig 20 lede van die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) van “gewapende aanrandings en martelsessies”.
Elk van die beskuldigdes eis N$1,5 miljoen in skadevergoeding.
Die mans het in Oktober verlede jaar ’n saak teen die kommissaris-generaal van die NCS, Raphael Hamunyela; die hoof van die Windhoek Sentrale Gevangenis (WCF), Veiko Armas; sy adjunk, Oscar Numwa; die superintendente van die WCF en 11 tronkwagte aanhangig gemaak.
Een van die beskuldigdes is Manfred Links wat teregstaan op die moord van sy meisie. ’n Ooggetuie het na bewering gesien hoe Links haar lewend aan die brand steek.
Johannes Hausiku eis ook skadevergoeding. Hy is intussen tot 35 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op ’n tweejarige seun en die verkragting van drie vroue.
Marcus Thomas, ’n Amerikaanse burger wat teregstaan op die moord van die Namibiër André Heckmair, eis ook skadevergoeding.
Die ander beskuldigdes sluit in David Palangonwe, Matthew Kakururume, Rotney Afrikaner en Patric Stanley Gaingob.
BEWEERDE MARTELSESSIES
In hul eisbesonderhede beweer die beskuldigdes dat lede van die NCS hulle op verskeie geleenthede tussen Augustus 2021 en Mei 2022 aangerand het.
Die mans beweer in die meeste gevalle is hulle daarvan beskuldig dat hulle verbode items in hul besit gehad het, wat nie die geval was nie.
Hulle is glo daarna in boeie geslaan, met hul hande agter hul rûe, en na areas geneem waar daar geen CCTV-kameras was nie.
’n Groep gewapende wagte en beamptes het na bewering die mans omsingel, waarna hulle aangerand is. Hulle is glo met vuiste, elmboë en knuppels geslaan. Hulle is na bewering gesig eerste teen die sementvloer gegooi en daar is aan hul boeie geruk totdat die bloed van hul hande afgedrup het.
Volgens hul eisbesonderhede het hulle geen bedreiging vir die NCS-lede ingehou nie.
Hulle beweer verder in hul eisbesonderhede dat hulle in die “nommer 8-posisie” geboei is.
“Dit behels dat die persoon moet kniel en sy linkerarm word by die elmboog in die rigting van sy kop gedwing terwyl die regterarm by die elmboog terselfdertyd in die teenoorgestelde rigting, na die voete, gedwing word.”
“Dit veroorsaak dat ’n persoon se skouer en pols ontwrig. Dit vererger die wreedaardige gewapende aanrandings en lei tot verdere beserings en langtermyn interne en eksterne liggaamlike skade,” lui die eisbesonderhede.
EISE
Die beskuldigdes eis elk algemene skadevergoeding van N$500 000, N$300 000 vir die skending van hul grondwetlike regte, N$300 000 vir pyn en lyding; N$300 000 vir trauma en emosionele skok; en N$100 000 vir vernedering.
Die NCS se gebruik om gehoorafwagtende gevangenis by die Windhoek Sentrale Gevangenis tydens aanhouding en ondervraging agter hul rûe en in die “nommer 8-posisie” te boei, moet ongrondwetlik verklaar word, eis die mans verder.
Hulle eis ook dat die hof die bestuur van die gevangenis se praktyk ongrondwetlik moet verklaar waar hulle gevangenes straf sonder om hulle die geleentheid te gun om hul kant van die saak te stel.
Die respondente het op 15 Desember 2022 aangedui dat hulle die saak sal teenstaan, maar het nog nie hul pleitstukke by die hof ingedien nie.
Partye het Donderdag voor regter Orben Sibeya vir voorverhoorverrigtinge verskyn en die saak is tot 16 Februarie uitgestel.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie