Die Chinese sakevrou, Stina Wu. Foto argief
Die Chinese sakevrou, Stina Wu. Foto argief

Wu in hof oor N$68 miljoen se 'skuld'

Ontwikkelingsbank van Namibië eis terugbetaling
Partye het gister in die hoërhof in Windhoek verskyn vir voorverhoorverrigtinge.
Kenya Kambowe
Die Chinees-gebore sakevrou, Qiaoxia 'Stina' Wu, is hof toe gesleep deur die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) vir die beweerde wanbetaling van lenings wat glo sowat N$68 miljoen beloop.

Die betrokke lenings is glo in 2017 verkry vir maatskappye wat Wu saam met haar Chinese sakevennoot, Songgen Huang, besit.

Die DBN het die saak in Julie vanjaar by die hoërhof in Windhoek aanhangig gemaak nadat die duo as mede-eienaars van die Marigold Hotel Developer, First Wall Property Investment en AH Helmsman Group Holdings, nie twee lenings terugbetaal het nie.

In sy beëdigde verklaring versoek die DBN die hof om die respondente te verplig om die gelde wat verskuldig is, te betaal.

Die bank eis verder dat die hof Wu en Huang se onroerende eiendom as vatbaar vir eksekusie te verklaar. Dit sluit in twee erwe in Windhoek met die grote van 966 en 1 401 vierkante meter en ’n erf in Rundu wat 3 301 vierkante meter groot is.

Wu en Huang het in Julie reeds die hof in kennis gestel van hul voorneme om die saak teen te staan. Partye het gister voor regter Esi Schimming-Chase verskyn vir voorverhoorverrigtinge.



LENINGS

Die eerste lening ten bedrae van N$20 miljoen is op 31 Januarie 2017 verkry terwyl die tweede lening van sowat N$23 miljoen op 19 Julie van dieselfde jaar, toegestaan ??is. Die bank se voormalige uitvoerende hoof, Martin Inkumbi, het albei leningsooreenkomste namens die bank afgeteken.

Volgens die hofstukke is albei lenings veronderstel om oor 'n tydperk van 10 jaar betaal te word, maar dit blyk dat Wu en Huang se maatskappye nie maandelikse betalings gemaak het nie.

Op 26 Februarie 2021 het die twee die DBN genader vir die herstrukturering en konsolidasie van die lening en Inkumbi, wat die bank hiertydens verteenwoordig het, het die lening na sowat N$50,4 miljoen herstruktureer. Ten spyte hiervan word daar aangevoer dat Wu en Huang steeds versuim het om die maandelikse betalings betyds te maak of na bewering enigsins te vereffen.

’n Brief wat die bank in November 2022 geskryf het, het aangedui dat die skuld teen 31 Oktober 2022 op byna N$60 miljoen gestaan het. Op 29 Februarie 2024 het die skuld na bewering sowat N$68,4 miljoen beloop.



OMSTREDE

Wu is bekend as 'n eiendomsontwikkelaar met winkelsentrums in Oshakati, Windhoek, Rundu en Divundu. Sy besit ook 'n hotel in Windhoek, asook verskeie ander eiendomme en huise in 'n aantal dorpe in Namibië.

Die omstrede sakevrou het ook bande met Swapo-partyleiers en daar bestaan gerugte dat sy oor die jare die regerende party se politieke veldtogte finansier.

Dit is ook nie die eerste keer wat Wu in ’n hofgeding betrokke is nie. Sy is verlede jaar ook hof toe gesleep omdat sy na bewering versuim het om sowat N$24 miljoen te betaal vir eiendomme wat sy glo ingestem het om te koop.

Esmerelda Boa-Hora Manahi het beweer dat sy in Oktober 2018 'n verkoopooreenkoms met Wu aangegaan het. Manahi het destyds die hof versoek om Wu te beveel om die eiendomme te ontruim en dit te herstel ná daar glo grootskaalse skade aangebring is wat gelei het tot aansienlike daling in die waarde van die eiendom. Glo altesaam sowat N$13 miljoen.

Wu het glo ingestem om Manahi binne 40 dae van 'n eiendomswaarborg van N$9,5 miljoen te voorsien en die oorblywende bedrag in maandelikse paaiemente van N$104 166 te betaal. Sy sal toegelaat word om die eiendom te beset met betaling van die eerste paaiement.

Manahi het gesê Wu sou alle munisipale tariewe en belasting betaal vanaf die datum van besetting en dat die eiendomme in November 2019 op Wu se naam oorgedra sal word sodra sy die bankwaarborg het.

Wu het egter na bewering geweier om die opgelope munisipale tariewe en belasting te betaal en sy het na bewering nooit die bankwaarborg gelewer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!