Drie regters van die hooggeregshof het Vrydag bevind dat 'n beslissing van die hoërhof foutief was en dat die wysiging van 'n antwoord op pleitstukke, wel geldig is. Foto Argief
Drie regters van die hooggeregshof het Vrydag bevind dat 'n beslissing van die hoërhof foutief was en dat die wysiging van 'n antwoord op pleitstukke, wel geldig is. Foto Argief

Wysiging is geldig, beslis regters

Marmorwerke wen appèl teen TransNamib
Die hooggeregshof het verlede week 'n dispuut aangaande die wysiging van Marmorwerke se antwoord op TransNamib se pleitstukke opgelos.
Kristien Kruger
Die hooggeregshof het Vrydag uitspraak gelewer in ’n dispuut oor die wysiging van hofstukke in die saak tussen Marmorwerke Karibib Pty Ltd en TransNamib Holdings.

Die hof het in die guns van Marmorwerke beslis deur hul appèl te handhaaf en te beveel dat hul gewysigde antwoord op TransNamib se pleitstukke, wat by die hoërhof ingedien is, geldig is.

Die uitspraak is in teenstelling met die hoërhof se beslissing dat die wysiging ongeldig was en die hooggregshof se bevel vervang dié van die hoërhof.

AGTERGROND

Gedurende die saak, wat in die hoërhof in Windhoek aangehoor is, het Marmorwerke ’n kennisgewing ingedien om sy antwoord op TransNamib se pleit te wysig.

Die kennisgewing het verklaar dat tensy skriftelike beswaar teen die voorgestelde wysiging binne 10 dae gemaak word, hulle met die wysiging sal voortgaan.

Geen beswaar is gemaak binne die tydperk wat in die kennisgewing vermeld is nie.

In plaas daarvan het TransNamib se regsverteenwoordigers ’n brief aan Marmorwerke se regsverteenwoordigers gerig waarin hulle ingelig is dat die kennisgewing om te wysig, ’n tussentydse aansoek was en dat hulle dit sou teenstaan aangesien dit glo nie aan reël 32(9) en (10) van die reëls van die hof voldoen nie.

Die brief het twee gronde vir die beswaar uiteengesit en 'n kennisgewing van voorneme om die voorgestelde wysiging teen te staan, is later ingedien nadat tyd reeds verstryk het. Marmorwerke het daarna sy gewysigde antwoord ingedien.

Die partye het verskillende menings uitgespreek oor die vraag of TransNamib se kennisgewing om te wysig en Marmorwerke se wysiging van sy antwoord, aan die reëls van die hof voldoen het. Hulle het die hooggeregshof versoek om leiding oor die dispuut te gee.

UITSPRAAK

“Die kennisgewing van voorneme om die antwoord te wysig en die eiser [Marmorwerke] se antwoord is nie nietig of ongeldig nie en is behoorlik voor die hof.

“Die verweerder word gelas om die eiser se koste te betaal, insluitend die koste verbonde aan die voorbereiding van betooghoofde, indeksering en paginering van die hoflêer en die voorbereiding van bundels,” lui die uitspraak wat Vrydag deur hoofregter Peter Shivute en regters Dave Smuts en Hosea Angula gelewer is.

Volgens die hofbevel is die saak na voorverhoor verwys wat deur die besturende regter belê sal word vir verdere bestuur daarvan.

HOËRHOF SE UITSPRAAK

Die hoërhof het destyds bevind dat die kennisgewing om te wysig en die wysiging onbehoorlik voor die hof was en het dit met koste geskrap, omdat 'n wysiging van 'n pleitstuk 'n interlokutêre aangeleentheid is en daarom moet 'n party wat van voorneme is om 'n pleitstuk te wysig, eers aansoek doen.

Die hooggeregshof het wel bevind dat daar geen vereiste in reël 52 is dat verlof tot wysiging eers aangevra en verkry moet word in omstandighede waar geen geldige beswaar teen die beoogde wysiging gemaak word nie.

“’n Party wat 'n pleitstuk of dokument wat ten opsigte van 'n verrigtinge geliasseer wil wysig, moet kennis gee van die voorneme om te wysig aan alle betrokke partye en die besturende regter; die kennisgewing moet meld dat tensy skriftelike beswaar teen die voorgestelde wysiging binne 10 dae gemaak word, 'n wysiging aangebring sal word. Indien geen skriftelike beswaar gemaak word nie, word dit geag dat 'n party wat die kennisgewing ontvang het tot die wysiging instem,” word dit in die uitspraak verduidelik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!