Xinfeng se vragmotors het verlede jaar gedurig litium-erts wat vir uitvoer bestem was na Walvisbaai vervoer, Foto Augetto Graig
Xinfeng se vragmotors het verlede jaar gedurig litium-erts wat vir uitvoer bestem was na Walvisbaai vervoer, Foto Augetto Graig

Xinfeng behou Orange River Mining

Hersien besluit oor regskoste, sê regter
Die regter het beslis die besluit oor regskoste moet hersien word, maar het geswyg oor aantygings van bedrog tydens die oordrag van eienaarskap van die maatskappy.
Augetto Graig
Die omstrede wyse waarop Xinfeng Investments vir Orange River Exploration and Mining bekom het, en daarmee saam die eksklusiewe eksplorasieregte tot litium-mineraalafsettings buite Uis, het verlede week weer in die hof gedraai.

Regter Hannelie Prinsloo het op Woensdag 9 Augustus beslis dat ’n belastingbeampte se vorige bevinding rakende regskoste in die eienaarskap-dispuut omgekeer moet word en het die betrokke beampte opdrag gegee om weer die toepaslikheid van sekere items op die regsfaktuur te evalueer.

Hierdie nuutste dispuut het verband gehou met hoeveel Xinfeng se regspan, Nambili Mhata, advokaat Tinashe Chibwana en Sisa Namandje, uiteindelik sal ontvang van die meer as N$660 000 wat hulle vir regskoste eis.

Die Suid-Afrikaner Gideon Benjamin Smith, Hineni Investments, Protocol Secretarial Services, Ellis and Partners Legal Practitioners en die Owerheid vir Sake- en Intellektuele Eiendom (Bipa) se uitvoerende hoof, Vivienne Katjiuongua, het die regskoste-eis teengestaan.

Katjiuongua se besluit van Julie 2022 om die verandering van eienaarskap van Orange River vanaf Smith na Peter Shifwaku om te keer lê aan die kern van die ingewikkelde saak wat deur Xinfeng gebring is. Dié Chinese mynbouer het Orange River Exploration and Mining destyds vir sowat N$38 miljoen by Shifwaku gekoop.

Op 2 September verlede jaar het Prinsloo beslis dat Katjiuongua nie die reg gehad het om die veranderde eienaarsdokumente tot niet te maak nie, en haar besluit is omgekeer.

Die regter het verder beslis dat Katjiuongua, Orange River en Peter Shifwaku ook deel van die regskoste moet dra.

Prinsloo het egter nie in die betrokke beslissing die kwessie van die wetlikheid van die wyse waarop Shifwaku vir Orange River bekom het, aangeroer nie. Dit omdat dit nie deel van die oorspronklike aansoek gevorm het nie, sê die regter.

Dit ten spyte van aantygings van bedrog, vervalsing en onwettige aanpassing van Bipa-rekords in verband met die eienaarskap van Orange River, en wanbetaling vir ooreenkomste ingevolge die oordrag van eienaarskap van die onderneming. Die regter voer aan hierdie beweringe moet eers deur die betrokke owerhede ondersoek word.

Volgens Shifwaku het Smith by monde van Ellis and Partners aangebied om 85% van Orange River Mining teen N$4,5 miljoen by hom te koop. Die geld is nooit betaal nie, en dus was Smith nie meer ’n vennoot teen die tyd dat Shifwaku die onderneming aan Xinfeng verkoop het nie. Volgens Philip Ellis van dié regsfirma was die Bipa-eienaarskapdokumente vervals en op ’n onregmatige wyse verander terwyl handtekeninge daarop ook vervals was.

OOPGROEFMYN

Intussen het Xinfeng vinnig werk daarvan gemaak om ’n oopgroefmyn buite Uis op die been te bring. Die uitvoer van onverwerkte erts vanaf hul ander litiummyn buite Omaruru is egter in Desember verlede jaar stopgesit en vroeër vanjaar het die minister van myne en energie, Tom Alweendo, die groen lig van die kabinet gekry om ’n verbod op sekere minerale – soos onverwerkte litiumerts – te laat plaas. Xinfeng sou ’n verwerkingsaanleg by die Uis-myn bou, maar geen vordering is in onlangse maande bekend gemaak nie.

In ’n ander hofsaak voer Xinfeng ook steeds ’n stryd teen Alweendo se poging om hul lisensie vir mynbedrywighede buite Omaruru af te vat. Daardie saak duur voort en sal na verwagting eers weer in Oktober in die hof draai.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!