• Tuisblad
  • Howe
  • ‘Massamoordenaar’ van Usakos bly agter tralies
Usakos-landdroshof Foto argief
Usakos-landdroshof Foto argief

‘Massamoordenaar’ van Usakos bly agter tralies

Verdagte ’n minderjarige (17)
Die 17-jarige seun bly agter tralies nadat hy gister vlugtig in die landdroshof op Usakos verskyn het.
Adam Hartman
Die 17-jarige seun wat daarvan aangekla word dat hy ses lede van sy familie op Usakos wreed vermoor het, bly in aanhouding.

Hy het gister vlugtig in die landdroshof op Usakos verskyn en is borgtog geweier. Die saak is tot 28 Mei vir verdere polisieondersoeke uitgestel.

Alhoewel die beskuldigde op 18 April 18 jaar oud word, bly hy ’n wettige minderjarige ingevolge Namibiese wetgewing. As sodanig kan sy naam nie in hierdie stadium gepubliseer word nie. Hy sal egter met sy volgende verskyning ’n volwassene wees.

Hy staan tereg op verskeie aanklagte van moord en ’n aanklag van dwarsboming van die gereg ná die beweerde moorde Saterdagoggend op sy familielede in die Hakaseb-nedersetting.

Die saak het die nasie geskok en reaksie van die hoogste regeringsvlak ontlok. Die eerste minister, Elijah Ngurare, wat Maandag namens president Netumbo Nandi-Ndaitwah tydens ’n hoflikheidsbesoek aan Namport op Walvisbaai gepraat het, het die regering se medelye en kommer oor die ontstellende aard van die misdaad uitgespreek.

“Die president het ons gevra om Usakos te besoek ná die tragedie waar ses familielede deur ’n jong persoon afgemaai is,” het Ngurare gesê.

“Ons betuig ons innige meegevoel met die familie en bid vir hulle.”

Hy het die voorval as “diep kommerwekkend” beskryf, veral weens die jong ouderdom van die verdagte.

“Wanneer ons jongmense so iets doen – is dit baie, baie kommerwekkend. Dit is hartverskeurend. Die president het ons gevra om daarheen te gaan en saam met die familie te wees en die familie te troos en medelye namens haar en die regering oor te dra,” het Ngurare gesê.

Hy het ook gevra vir eenheid in tye van tragedie en die nasie daaraan herinner “wanneer daar probleme is, moet ons saamstaan. So, ons trane is met hulle”.

Die eerste minister het toe gevra vir ’n oomblik van stilte ter ere van die ses slagoffers. Hulle is as Elisabeth Naruses (90), Fenny Naruses (18), Ibra Naruses (6), Raunisha Boer (6), Rachel Boer (3) en Emi Naruses (3) geïdentifiseer.

Polisieondersoeke het aan die lig gebring dat die slagoffers eers met ’n ysterbyl en ’n knopkierie geslaan is voordat hul liggame in hul huis aan die brand gesteek is, in wat ondersoekers glo ’n poging was om bewyse te vernietig.

Die verdagte, ’n nabye familielid van die oorledenes, is op die toneel gevind met brandwonde aan albei voete en is na die Usakos-staatshospitaal vir behandeling geneem voordat hy in hegtenis geneem is. Die moordwapen, vermoedelik die byl, is op die toneel gevind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer