Foto ter illustrasie argief
Foto ter illustrasie argief

‘Perlemoensmokkelaars’ in Karasburg-hof

Francoise Steynberg
Drie vermeende perlemoensmokkelaars het Woensdag in die Karasburg-landdroshof verskyn nadat hulle glo perlemoen ter waarde van sowat N$1,7 miljoen oor die Oranjerivier gesmokkel het.

Bekende inwoners van Warmbad, Laurentius Basson, Petrus Alexander Bock en Mannetjie Harold Schultz het voor landdros Melissa Mungunda verskyn wat hul saak tot 23 en 24 Julie uitgestel het. Ester Jafet het vir die staat verskyn.

Die beskuldigdes word onder meer daarvan aangekla dat hulle in Julie 2022 Chinese burgers gehelp het om 407 kg perlemoen oor die Oranjerivier te smokkel. Hulle staan ook tereg op aanklagte van ontvoering en die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad (Poca).

Volgens inligting het die beskuldigdes na bewering twee Chinese burgers, Xiaohui Wu en Xinda Li, bygestaan om die perlemoen met ’n opblaasboot oor die Oranjerivier te smokkel, terwyl ten minste een ander Chinese burger wat betrokke was, glo aan die Suid-Afrikaanse oewer van die Oranjerivier by Witbank agtergebly het. Die twee Chinese is op 19 Julie 2022 op Warmbad in hegtenis geneem.

“’n Bakkie wat aan Basson behoort is na verneem word gebruik om die perlemoen van die Oranjerivier na Warmbad te vervoer en beslag is daarop gelê,” het ’n betroubare bron gesê.

“Die Chinese burgers het glo ’n tydelike behandelingsfasiliteit opgerig om die perlemoen uit te droog by Rooikoppies aan die buitewyke van Warmbad by ’n gebou wat deur Bock besit word.”

Die Namibiese polisie het glo die paspoorte van die Chinese burgers by Basson se huis gevind en aangesien die Chinese geen stempels in hul paspoorte of visums vir Namibië gehad het nie, is hulle as onwettig in die land verklaar, aangekla en gedeporteer.

Die Namibiese polisie se afdeling vir beskermde hulpbronne van Oranjemund was destyds aktief by die saak betrokke en die gekonfiskeerde perlemoen is aan die destydse ministerie van visserye en mariene hulpbronne oorhandig.

Namibië het ’n deurgangsroete geword vir perlemoensmokkelary vanuit Suid-Afrika na China.

’n Verslag van 2022 oor wildbeskerming en wetstoepassing in Namibië het bevestig ’n groot oorgrens-smokkeloperasie is in 2022 by Warmbad oopgevlek, terwyl groot besendings in vorige jare by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en ander doeanepunte onderskep is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer