Deur Oranjemunders se lens

Yandi Du Plessis
Vir die 2023 Diamantfees is oud- en huidige inwoners van Oranjemund genooi om foto’s in te stuur van plekke in en om die dorp wat hulle waardeer, met die vrae “watter areas van Oranjemund, of die omliggende gebiede, bring jou vreugde elke keer as jy daarheen gaan?” en “watter plek bring vir jou vrede en beteken vir jou die meeste?” as basis.

Die reaksie was beide uiteenlopend en kreatief, met amateurs, stokperdjiefotograwe en beroepsfotograwe wat alles van selfoonkameras tot gesofistikeerde toerusting gebruik het om hul gunstelingdele van die dorp op film vas te vang en te deel.

Met 74 foto’s wat deel van die My Oranjemund-uitstalling vorm, is dit duidelik dat die inwoners bande met verskeie plekke het. Lugfoto’s van die voorstede, die gholfbaan en die riviermond bied ’n panoramiese blik van die dorp, met nog meer foto’s van die strand, die rivieroewers en die duine wat ook die oog vang. Baie mense het gekies om foto’s van binnenshuise tonele soos ’n knus sitkamer, ’n radio-aanbieder se werkplek, ’n geleentheid by die gemeenskapsentrum en ’n besoek aan die Jasper House-museum in te stuur.

Benewens die baie geliefde en ikoniese Oranjemund-gemsbokke word foto’s van uile, duiwe, troeteldiere en seevoëls ook uitgestal. Nog ’n prominente kenmerk in van die foto’s wat vertoon word, is verskeie stukke openbare kuns wat geskep is as deel van die Art Can Transform-projek wat deur die OMDis Town Transformation Agency van stapel gestuur is. Hierdie projek het in Junie 2021 afgeskop en het die dorp ’n nuwe baadjie gegee deur openbare beeldhouwerke en muurskilderye te skep en op te rig.

Vanjaar se Oranjemund Diamantfees vind vanaf 2 tot 6 Augustus plaas onder die tema “Skep ’n volhoubare toekoms deur ekonomiese diversifikasie” en is ’n wonderlike geleentheid vir toeriste en plaaslike inwoners om bymekaar te kom en alles wat Oranjemund bied, te vier. Hierdie gemeenskapsuitstalling bied aan plaaslike Oranjemunders stof tot nadenke, terwyl dit ook vir toeriste die seldsame geleentheid bied om die meer intieme en persoonlike aspekte van die dorp vanuit “binnestanders” se perspektiewe te sien. Die uitstalling open amptelik op 1 Augustus by Beronnies in Oranjemund en kan vir die duur van die fees besigtig word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!