AWARDED: Despite its tax issues with NamRa, Zhong Mei Engineering Group has scooped the Karibib-Usakos road tender. PHOTO: NBC
AWARDED: Despite its tax issues with NamRa, Zhong Mei Engineering Group has scooped the Karibib-Usakos road tender. PHOTO: NBC

‘Belastingontduiker’ kry N$340 m.-padtender

Korrekte prosedures is gevolg, sê RA
Ondanks sy belastingprobleme met NamRA, is die Karibib-Usakos-padtender aan die Zhong Mei Engineering Group toegeken.
Yandi Du Plessis
Nuusredaksie – Die maatskappy Zhong Mei Engineering Group, wat onlangs deur die Namibië inkomste-agentskap (NamRA) van belastingontduiking beskuldig is, het steeds ’n tender ter waarde van meer as N$340 miljoen ontvang om die pad tussen Usakos en Karibib in die Erongostreek op te gradeer.

NamRA het verlede maand die Chinese maatskappy onkant gevang deur N$33 miljoen direk van sy bankrekening af te trek na aanleiding van Zhong Mei se uitstaande belasting. Die maatskappy het die inkomste-agentskap hof toe gesleep in ’n poging om die transaksie te laat omkeer.

Zhong Mei was een van sewe maatskappye – almal in Chinese besit – wat op die kortlys vir dié padprojek was, en het nou as die wenner uit die stryd getree, volgens dokumente wat ons susterkoerant Namibian Sun onder oë gehad het.

Die kortlys het onlangs ’n herrie ontketen omdat dit nie ’n enkele Namibiese maatskappy ingesluit het nie.

Die Chinese ambassade in Namibië het gesê die opgradering van die Karibib-Usakos-pad word nie deur sy regering gefinansier nie en het dus nie deelgeneem aan die proses wat daartoe gelei het dat sewe Chinese maatskappye die kortlys vir die tender gehaal het nie.

VOLG PROSEDURES

Die Paaieowerheid (RA), onder wie die projek val, het gesê hy het nie ’n noemenswaardige aantal tenders van Namibiese maatskappye vir die opgradering ontvang nie.

Trouens, net drie Namibiese maatskappye het belangstelling getoon in die bodproses, wat deur die Duitse ontwikkelingsbank KfW gefinansier word.

Zhong Mei het op 26 Julie bevestiging van Conrad Lutombi, die RA se uitvoerende hoof, ontvang dat sy bod suksesvol was.

Enige tenderaars met besware het tot gister tyd gehad om aansoek te doen vir ’n hersiening van die besluit.

Lutombi het Woensdag vir skriftelike vrae gevra toe hy gevra is of die betaling van belasting nie ’n vereiste is vir enige maatskappy om ’n staatstender te ontvang nie.

“Al wat ek kan sê, is die maatskappye moet in Namibië geregistreer wees en goedkeuringsbriewe hê en aan maatskaplike sekerheidsvereistes voldoen. Vir nou volg ons net die korrekte prosedures en dit is in ooreenstemming met die openbare verkrygingswet.”

WIE IS ZHONG MEI?

Zhong Mei Engineering werk sedert 2015 aan verskeie grootskaalse staatsprojekte, soos die opgradering van die Rundu-abattoir, konstruksie van die distrikspad van Oshakati na Ongenga, die bou van koshuisblokke by die Universiteit van Namibië (Unam) se Neudamm-kampus en die tweede konstruksiefase van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne se nuwe hoofkantoor.

Die maatskappy het ook aan die Swakopmund-Hentiesbaai- en Uis-paaie gewerk en opgegradeer, asook die bou van die Oshoopala-brug oor die Okatanarivier in Oshakati en sommige lae inkomste-behuisingsprojekte.

Die nuwe dubbelbaanpad vanaf Windhoek na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako tel ook onder sy projekte.

Ondanks dié multimiljoendollar-tenders sê NamRA sy oudits toon dat die maatskappy geen opbrengste, geen uitgawes en geen inkomste aangeteken het toe hy sy belastingopgawes vir 2013 tot 2022 ingedien het nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!