Etosha roads
Etosha roads

Etosha se paaie word ná impakstudie geteer

Openbare konsultasieproses eindig op 22 September
Ná die voltooiing van die nodige prosesse sal 'n formele aansoek om 'n omgewingsklaringsertifikaat by die kantoor van die omgewingskommissaris ingedien word.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - Ekwao Consulting is aangestel om ’n omgewingsimpakstudie (EIA) uit te voer voor die lae-volume verseëling van paaie in die Etosha Nasionale Park wat oor 214 kilometer strek.

Hierdie metode van padkonstruksie gebruik seëlmateriaal met ’n asfaltbasis om paaie met min verkeer te teer.

Die roete strek vanaf Okaukuejo tot by die King Nehale-hek en sluit Halali-afdraaipunte en via Namutoni in.

Tulipamwe Consulting Engineers is as die ingenieursfirma aangestel.

’n Omgewingsomvang- en impakstudie en openbare konsultasieproses word dus uitgevoer ingevolge die Omgewingswet en verwante regulasies.

Belangstellendes kan registreer en kommentaar lewer met alle voorstelle wat teen 22 September ingedien moet word.

Ná die voltooiing hiervan sal ’n formele aansoek om ’n omgewingsklaringsertifikaat by die kantoor van die omgewingskommissaris ingedien word vir oorweging.

Die park was die afgelope tyd in die nuus met talle voertuie wat beskadig is weens die vervalle toestand van Etosha se paaie.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het onlangs gesê die Etosha Nasionale Park se hoofpaaie sal tot asfaltstandaard opgegradeer word, as gevolg van die toenemende aantal toeriste wat die park besoek en druk op paaie en die instandhouding daarvan plaas.

Shifeta het gesê die ministerie is hard aan die werk om te verseker dat paaie behoorlik gediens word en dat besoekers gerieflik daarop kan ry.

“Ons is reeds besig met ’n groot projek om veral die pad tussen Okaukuejo in Etosha en die King Nehale-hek tot ’n asfaltstandaard op te gradeer.

“Dit beteken ons moet dit laat teer en van daar af sal ons toesien dat ander groot paaie in Etosha almal opgegradeer word.”

Die uitvoerende direkteur in die betrokke ministerie, Theofilus Nghitila, het saamgestem dat die paaie in Etosha gerehabiliteer moet word en gesê dat die statistiek oor toeriste-aankomste die ministerie sal help om seker te maak dat die park se paaie in ’n goeie toestand gehou word.

Namibië het ’n rekordtoename van 98,1% in toeriste-aankomste van 232 756 in 2021 tot 461 027 in 2022 aangeteken. Hierdie syfer dui op ’n herstelvlak van 28,9% vanaf die jaarlikse toeriste-aankomste van 2019.

“Ons moet raaksien dat toeriste terugkeer na baie jare van inperkings. Die volume besoekers wat na Etosha stroom is oorweldigend.” het Nghitila gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!