Goedere vloei deur Namport

Inkomste by hawens styg met 22%
In Namport se 2023-jaarverslag wat onlangs in die parlement ter tafel gelê is, sê sy voorsitter dat sy tevrede is met die haweowerheid se positiewe finansiële en operasionele prestasies.
Augetto Graig
Die nasionale haweowerheid (Namport) se finansiële prestasies vir die 2023-boekjaar het soos sonlig op water geskitter.

Inkomste by Namport se hawens het met 22% gestyg tot N$1,5 miljard vergeleke met N$1,234 miljard in die vorige boekjaar, en ’n teiken van N$1,268 miljard.

Nog meer opvallend is die toename in inkomste vir die totale Namport-groep, wat van N$1,683 miljard in 2022 tot meer as N$2 miljard gegroei het.

In totaal het Namport se hawens 7,69 miljoen ton vrag in die boekjaar hanteer; met 3,78 miljoen ton wat verskeep is, 3,79 miljoen ton wat geland het en 116 814 ton wat oorgelaai is.

Altesaam 160 883 vraghouers is hanteer, terwyl 1 636 vraghouerskepe by die hawens geanker het.

Namport besit en bestuur die hawens op Walvisbaai en Lüderitz, terwyl sy filiale NamDock, Namibia e-Trade Services, Namport Property Holdings en Lüderitz Boatyard insluit.

Net NamDock is ’n lopende saak terwyl e-Trade Services probeer om ’n geoutomatiseerde enkelspilpunt vir handelsfasilitering te vestig, Property Holdings is nog dormant, en Lüderitz Boatyard se toerusting is te verouderd om herstelwerk op skepe te hanteer.

NamDock spog egter met merkbare inkomstegroei, al het bedryfskoste ook gestyg, volgens Namport se uitvoerende hoof, Andrew Kanime.

In Namport se 2023-jaarverslag wat onlangs in die parlement ter tafel gelê is, sê die voorsitter Nangula Hamunyela dat sy tevrede is met die haweowerheid se positiewe finansiële en operasionele prestasies.

Vordering word gemaak met die plan om Namport op die lang termyn in ’n volhoubare posisie te plaas, sê sy.

Die jaar in oorsig het begin met die nadraai van die pandemie en die uitbreek van die oorlog in die Oekraïne, wat druk op wêreldwye energie- en graanhandel geplaas het, terwyl die oliebedryf beter pryse geniet het te midde van hoër inflasie, brei sy uit.

“Namibië se plasing as een van die mees mededingende en lewensvatbare bronne vir groenwaterstof-produksie het op die regte tyd gekom,” sê sy.

Kanime het gesê dat meer invoere en uitvoere deur die hawens aangeteken is, danksy pogings om die vloei van kernvragte op te skerp.

Volumes het wesenlik toegeneem, met verhoogde houervolumes en meer aktiwiteit wat aan die olie- en gasbedrywe gekoppel is, sê hy.

Op die vasteland het die nywerheid voordeel getrek uit beter internasionale pryse vir steenkool, vis, vleis, pluimvee, marmer, toerusting en masjinerie, wat meer besigheid vir Namport beteken het.

Botswana se koper- en steenkooluitvoere het sterk groei getoon tesame met die invoer van brandstof.

Die volumes vir oorgrenshandel vir die haweowerheid het met 41% teenoor die vorige jaar gegroei, en het 29% van alle vragvolumes vir die boekjaar uitgemaak, sê Kanime.

Verder het meer skepe die hawens besoek en die beskikbaarheid van vraghouers het verbeter, voeg hy by.

“Die belangrikheid van maritieme logistiek in globale handel en ontwikkeling word selfs duideliker,” sê die uitvoerende hoof.

Namport het in die betrokke jaar voortgegaan om in terminale, toerusting, mense en ondersteuningstelsels te belê terwyl hy mylpale in die uitvoering van die staatsonderneming se sakeplan behaal het.

Opvolgers vir senior poste is onder meer geïdentifiseer en word hulle ontwikkel terwyl die herorganisasie van poste uitgewerk is en vanjaar uitgerol word.

Nog ’n hoogtepunt is die aanstelling van ’n operateur vir die nuwe vraghouerterminaal.

Terminal Investment Limited (TiL), ’n filiaal van Mediterranean Shipping Company (MSC), is onlangs as die gekose operateur aangekondig.

Ander planne vir vanjaar, wat Kanime genoem het, sluit die bou van nuwe hekke by die Walvisbaai se hawe en die aankoop van twee nuwe sleepbote in. Hy sê ’n tweedehandse sleepboot is reeds aangeskaf.

Namport beoog ook om die besoeke van vraghouerskepe by Lüderitz se hawe aan te moedig.

Namport is opgewonde oor die komende grensverskuiwende ontwikkelings, soos die belegging in infrastruktuur vir groen waterstof, skeepsherstelwerk en die olie- en gasbedryf, sê Kanime in die jaarverslag.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 18° | 28° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 19° | 33° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 19° | 33° Gobabis: 21° | 34° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 19° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 19° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 20° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 27° Gaborone: 21° | 33° Lubumbashi: 16° | 22° Mbabane: 17° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 19° | 25° Maputo: 20° | 33° Windhoek: 19° | 33° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 29° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!