Groot ontwikkeling op Wlotzkasbaken se horison

Infrastruktuur vir watervoorsiening
Die Erongo-streekraad het sowat N$24,4 miljoen begroot vir die ontwikkeling van infrastruktuur op Wlotzkasbaken.
Adam Hartman
In wat beskryf word as “een van die mees ambisieuse ontwikkelings in die nedersetting se geskiedenis”, het die Erongo-streekraad ongeveer N$24,4 miljoen begroot vir die ontwikkeling van infrastruktuur in Wlotzkasbaken, 'n klein nedersetting wat ongeveer halfpad tussen Swakopmund en Hentiesbaai geleë is.

Tydens die raadsvergadering in Februarie het raadslede die vordering van die beplande fases vir infrastruktuur bespreek, wat die aanlê van water, behuising vir personeel asook stedelike beplanning insluit.

“Dit vorm deel van ’n poging deur die streekraad om langdurige gapings in dienslewering te takel in die enigste kusnedersetting in Namibië wat sonder formele infrastruktuur vir water, krag en riool is,” aldus die notule van die vergadering.

Die raad het vroeër ’n opname onder huiseienaars op Wlotzkasbaken uitgevoer om die lewensvatbaarheid van die huidige waterkarstelsel te bepaal. Die 64 huiseienaars het almal ’n voorkeur bevestig vir waterpypverbindings na hul eiendomme.

In reaksie hierop het die raad ’n multifase-ontwikkelingsplan bekend gestel om die voorsiening van water en verwante infrastruktuur op te gradeer.

Die eerste twee fases – wat reeds voltooi is – het die bou van ’n reservoir en die opgradering van die pypleiding ingesluit wat water aan die nedersetting verskaf.

Fase 3, 4 en 5, met ’n totale begroting van N$19,2 miljoen, sal fokus op die direkte koppeling van eiendomme aan die interne retikulasiestelsel. Dit sluit 73 erwe in Fase 3, 96 in Fase 4 en 89 in Fase 5 in.

Volgens raadslede is die nedersettingskantoor op Wlotzkasbaken reeds voltooi en amptelik ingewy, terwyl behuising vir personeel na verwagting teen die einde van vandeesmaand voltooi sal wees.

Bykomende ontwikkelings wat tans aan die gang is, sluit in die waardasierol, beplanning van grondgebruik, bouplanne sowel as die opstel van ’n soneringskema. Voorsiening is ook gemaak vir die aankoop van ’n sleepwa met ’n septiese tenk.



‘NIE GESTOOMROLLER WORD NIE’

Die voorsitter van die raad, Benitha Imbamba, het vroeër gesê die raad se planne gaan nie oor die inwoners of enige ander persoon gestoomroller word nie.

Sy het gevolglik weer die raad se verbintenis beklemtoon tot inklusiewe ontwikkeling en die belangrikheid van konsultasie in projekte wat plaaslike gemeenskappe raak.

Die voorgestelde uitbreiding van die nedersetting, wat 522 nuwe erwe vir residensiële en institutionele gebruik insluit, het kommer by sommige plaaslike inwoners laat ontstaan dat die grootskaalse ontwikkeling die unieke karakter van Wlotzkasbaken sal verander.

Wlotskasbaken, wat bekend is vir sy unieke watertorings en informele, nie-permanente strukture, word al vir jare na verwys as die “ryk man se nedersetting”.

’n Omgewingsimpakstudie deur Geo Pollution Technologies, in opdrag van die raad, het beide die ekonomiese voordele van die voorgestelde ontwikkelings asook die potensiële negatiewe impakte uitgelig. Laasgenoemde sluit veranderinge aan die landskap en die nedersetting se identiteit in.

Die Black Rocks-gebied, ’n dolomiet-rif wat bekend is vir sy omgewings- en estetiese waarde, word as ’n bewaringsone geoormerk en is nie onderhewig aan ontwikkeling nie.

Terwyl sommige inwoners die opgradering van infrastruktuur ondersteun, doen hulle ook ’n beroep op die verbetering van bestaande dienste eerder as grootskaalse uitbreiding.

Die raad het egter ook sy langtermyn-verbintenis beklemtoon om die projek vir watervoorsiening te voltooi en die lewenstandaarde op Wlotzkasbaken te verbeter.

Wlotzkasbaken, wat aanvanklik in die 1930's ontstaan het danksy hengelaars wat hier kom vakansie hou het om vis te vang, het oor die afgelope 90 jaar in ’n hoofsaaklik vakansie-gebaseerde bestemming ontwikkel.

In 1992 is dit amptelik in ’n nedersetting verander en val nou onder die streekraad se jurisdiksie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer