City starts using emergency water
City starts using emergency water

Hoofstad wend hom tot noodboorgatwater

Steeds veilig vir menslike gebruik
'n Paar veranderinge kan waargeneem word in die smaak, kleur en reuk van die water.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – Die Windhoek-munisipaliteit (CoW) het vandeesweek begin om die hoofstad se drinkwatervoorraad deur sy noodboorgatskema aan te vul, aangesien damvlakke vinnig besig is om te sak.

Minstens tien woonbuurte in Windhoek ontvang reeds net boorgatwater.

Dit volg nadat die munisipaliteit besluit het om waterbeperkings as deel van die droogtereaksieplan te implementeer.

Luidens 'n kennisgewing wat die kantoor van die CoW se uitvoerende hoof uitgereik het, kan daar 'n paar veranderinge aan die water wees met betrekking tot smaak, kleur en reuk.

“Ten spyte hiervan bly ons daartoe verbind om gehalte-drinkwater vir Windhoek te verseker en wil ons inwoners verseker dat ons drinkwater geskik bly vir menslike gebruik,” lui die verklaring.

Sekere woonbuurte sal net boorgatwater ontvang, terwyl ander ’n mengsel van boorgat- en ander water sal ontvang.

Gebiede waar die waarneembare veranderinge die duidelikste kan wees, sluit in Olympia, Suiderhof, Kleine Kuppe, Cimbebasia, Prosperita, Auasblick, Pionierspark, Academia, Rocky Crest, Hochland Park en Luiperdsvallei. Hierdie gebiede sal voortaan uitsluitlik boorgatwater ontvang.

Die woonbuurte Eros, Klein Windhoek, Avis, Windhoek se sentrale sakegebied, Ludwigsdorf, Doradopark en Windhoek-Noord sal 'n mengsel van boorgat, NamWater en gesuiwerde water ontvang en dus behoort die veranderinge minder opvallend te wees.

Intussen sal die res van Windhoek, soos gewoonlik, 'n mengsel van NamWater se voorraad gesuiwerde water ontvang, en geen waarneembare veranderinge in die drinkwater word verwag nie.

Luidens die verklaring sal hierdie watervoorsieningstrategie in plek bly totdat NamWater se damme merkbare invloei ontvang.

Die totale gemiddelde vlak van die drie damme staan op 34,6% in vergelyking met verlede seisoen, toe dit 57,1% vol was.

Die Swakoppoortdam se vlak is steeds op 67,2%, volgens NamWater se jongste dambulletin.

Die CoW het egter gesê dit is belangrik om daarop te let dat die dam se water van swak gehalte is en dat die oordragstelsel wat na die Von Bachdam skakel, baie onbetroubaar is met gereelde onderbrekings.

Intussen is die Von Bachdam se vlak op 22,8% en die Omatakodam is leeg.

Waterbeperkingsmaatreëls wat inwoners aangeraai word om te volg, is dat tuine slegs twee keer per week natgelei mag word, voertuie slegs met emmers gewas mag word (geen tuinslange), en swembaddens moet te alle tye bedek wees.

Ander beperkings sluit in dat geen water-fokuspunte soos fonteine toegelaat word nie, die hergebruik van water word so ver moontlik aangemoedig, vierblok-watertariewe sal aangepas word na laer volumes wat per maand verbruik mag word voordat straftariewe sal geld om waterbesparing aan te moedig en daar word van inwoners verwag om daaglikse watermeterlesings te neem om waterlekkasies te identifiseer.

Geen korting vir waterlekkasies sal toegelaat word nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!