Die hartseer dag verlede jaar vir produsente by die Hardap-besproeiingskema toe watertoevoer uit die dam opgeskort is. Foto verskaf
Die hartseer dag verlede jaar vir produsente by die Hardap-besproeiingskema toe watertoevoer uit die dam opgeskort is. Foto verskaf

Hoop vir Hardapboere

Wag vir Schlettwein se goedkeuring
Danksy onlangse reënval het die Hardapdam se vlak van 5,5% tot 16,6% gestyg.
Ellanie Smit
’n Besluit of watertoevoer na die Hardap-besproeiingskema vanaf die Hardapdam hervat gaan word, kan dalk so gou as vandag gefinaliseer word.

Dawie de Klerk van die Hardap Boerevereniging het gister bevestig dat die finale stap vir die hervatting van toevoer aan die besproeiingskema tans by die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, rus en “sal na alle waarskynlikheid môre [vandag] afgehandel word”.

Produsente het onlangs tydens ’n vergadering ooreengekom op ’n waterbesparing van 20%, wat beteken dat hulle 80% van hul normale waterverbruik sal ontvang ná die onlangse goeie reënval en die damvlak wat aansienlik gestyg het.

Dié voorstel is by NamWater ingedien en die water sal weer begin vloei sodra Schlettwein dit goedgekeur het en papierwerk en voorbereidings afgehandel is.

Gister was die dam se vlak op 16,6%, volgens De Klerk. Verlede jaar hierdie tyd was die dam 18,1% vol.

“Daarom behoort besproeiing teen die 20%-besparingsmaatreëls te kan hervat tot die dam weer 6% bereik of verdere invloei kry. Dit is genoeg water om ten minste een oes te oes,” het De Klerk gesê.

Hy meen egter dat dit reeds te laat is om mielies te begin plant.

“Maar teen 80% is dit steeds beter as niks en ons behoort in Mei te begin oes.”



SITUASIE STEEDS ONSEKER

NamWater het verlede jaar op 31 Oktober watertoevoer vir besproeiing vanaf die Hardapdam opgeskort weens die lae vlak van die dam toe dit minder as 6,5% bereik het.

NamWater se woordvoerder, Lot Ndamanomhata, het gesê die Hardapdam se vlak het van 5,5% tot 16,6% gestyg danksy onlangse reënval.

“Hoewel dit ’n verbetering is, bly die situasie onseker.”

Hy het gesê dat NamWater se tegniese span onder leiding van sy hidrologiese afdeling, tans berekeninge doen om te bepaal of dit moontlik is om produsente vir ’n paar maande van water te voorsien, terwyl dit steeds die dorp en omliggende gemeenskappe vir ten minste twee reënseisoene van veilige drinkwater kan voorsien, selfs in die afwesigheid van verdere invloei.

“Dit is ook belangrik om daarop te let dat enige besluite of veranderinge rakende die Hardapdam, die toestemming en goedkeuring van die ministerie van landbou en water moet kry.”

Ndamanomhata het verder gesê dat enige kommunikasie oor hierdie kwessie met die minister uitgeklaar moet word om belyning met nasionale prioriteite te verseker.

Verder het hy gesê besluite oor die verskaffing van water vir besproeiing verg noukeurige oorweging van verskeie faktore.

Volgens hom werk NamWater op die beginsel dat waterreserwes voldoende moet wees om ononderbroke water vir twee reënseisoene sonder enige invloei te voorsien.

“As dit nie haalbaar is nie, moet een of meer eise onderdruk word met besproeiing wat tipies die eerste opsie is om te verseker dat die voorsiening van drinkwater veilig bly.”

Ndamanomhata het bygevoeg dat die Hardapdam se bergingskapasiteit steeds tot 70% beperk word weens kommer oor veiligheid ná die verwoestende vloede van 2006, wat die beskikbare water verder beperk.

“Die Mariental Flood Task Force is egter gestig om opsies te ondersoek om hierdie limiet te heroorweeg."

Ndamanomhata het ook verduidelik dat NamWater verlede jaar watertoevoer vir besproeiing opgeskort het om behoeftes aan drinkbare water en water vir vee te prioritiseer.

“Hierdie benadering verseker voldoende reserwes tot die geprojekteerde droogloopdatum van Februarie 2026, gegewe die voortslepende droogtetoestande.”

Hy het gesê die aanvaarding van minder waterintensiewe landboupraktyke deur boere bly noodsaaklik om waterbronne vir alle gebruikers op die lang termyn te verseker.

“NamWater bly daartoe verbind om waterbronne verantwoordelik te bestuur en die behoeftes van landbouprodusente, inwoners en die breër ekonomie te balanseer.”

Volgens Ndamanomhata sal die besluit om die voorsiening van water vir besproeiing te hervat, afhang van deeglike konsultasies met belanghebbendes, ’n omvattende ontleding van waterbeskikbaarheid en die oorweging van potensiële invloei.

“NamWater sal enige nuwe inligting kommunikeer sodra berekeninge en samesprekings met belanghebbendes afgehandel is.”

Schlettwein kon nie vir kommentaar bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 30° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 19° | 34° Oshakati: 21° | 33° Ruacana: 17° | 34° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 15° | 32° Windhoek: 17° | 30° Gobabis: 21° | 32° Henties Bay: 16° | 19° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 14° | 29° Aranos: 20° | 31° Lüderitz: 15° | 27° Ariamsvlei: 15° | 29° Oranjemund: 15° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 24° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 13° | 30° Antananarivo: 17° | 26° Lilongwe: 21° | 29° Maputo: 22° | 33° Windhoek: 17° | 30° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 25° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 27° Harare: 18° | 25° #REF! #REF!