Keetmanshoop slaan toe op wanbetalers

Uitstaande skuldlas van N$212 miljoen
Die Keetmanshoop-munisipaliteit het 9 815 kliënte, waarvan net 2 257 (23%) aktiewe betalers is.
Henriette Lamprecht
Elizabeth //Kheibes - Fase een van die opskorting van munisipale dienste op Keetmanshoop skop op 6 November af indien besighede, staats- en ander instellings soos skole se rekeninge nie teen 3 November vereffen word nie.

Fase twee wat vir 4 Desember geoormerk is, sal munisipale personeel en raadslede in dieselfde bootjie teiken, gevolg deur fase drie wat op inwoners se skuld sal fokus.

Die munisipale raad het gister tydens ’n gemeenskapsvergadering op die dorp aan inwoners gesê die munisipaliteit was “te tegemoetkomend” en gaan nou ’n aggressiewe houding inneem om geld wat vir munisipale dienste verskuldig word, in te vorder.

“Die strategiese inisiatief sal verdeel word in drie fases en is daarop gemik om die kritieke kwessie van onbetaalde munisipale rekeninge te takel. Sou die rekeninge nie teen die spesifieke datum vereffen word nie, sal die water en krag van hierdie instellings en besighede afgesny word.

“Ons verstaan die uitdagings wat besighede in die gesig staar, maar dit is vir ons noodsaaklik om te verseker dat elkeen hul regverdige bydrae lewer om die dienste voort te sit waarop ons almal staatmaak,” het Keetmanshoop se burgemeester, McDonald Hanse, tydens die vergadering gesê.

Hanse sê die munisipaliteit het 1 000 voorafbetaalde watermeters aangekoop waarvan 250 reeds geïnstalleer is. Volgens hom sal sewe raadslede die eerste meters as ’n “simbool van welwillendheid” ontvang.

Inwoners sal hul huidige skuld op hul voorafbetaalde meters kan laai, waarna ’n persentasie van die algehele skuld met elke aankoop afgetrek sal word om dit te verminder. Elke meter kos N$3748,46, belasting op toegevoegde waarde uitgesluit.

Keetmanshoop se waarnemende uitvoerende hoof, Lee Mwemba, sê die munisipaliteit skuld NamPower niks nie, maar sy uitstaande rekening by NamWater staan tans op net oor die N$32 miljoen.

“Ons is die enigste munisipaliteit in die Suide wat NamPower nie geld skuld nie. Ons het ’n baie toegewyde span wat eerder die krag as salarisse sal betaal,” het hy gesê.

Mwemba sê besighede, die regering en ander instellings skuld die munisipaliteit tans N$85 miljoen, terwyl inwoners se uitstaande skuld op ’n reuse N$127 miljoen in onbetaalde munisipale dienste staan. In totaal het die munisipaliteit ’n uitstaande skuldlas van N$212 miljoen.

“Ons het 9 815 kliënte, maar slegs 2 257 (23%) hiervan is aktiewe betalers. Altesaam 77% van hierdie kliënte maak geen betalings nie. Uit die aktiewe betalers maak ons ten minste N$6 miljoen in inkomste per maand. Dit is nie genoeg nie, aangesien ons ’n waterrekening van N$3,3 miljoen kry wat ons elke maand moet betaal,” het hy gesê.

Gemeenskapslede het hul kommer uitgespreek oor water wat by skole afgesny gaan word, met leerlinge wat tans besig is om eksamen te skryf.

Die voorsitter van die raad, Johannes Vries, het gesê die munisipaliteit was te “vergewensgesind” en moet ten alle koste nou optree.

“Ons is ook deel van hierdie gemeenskappe, ons is ouers met kinders wat skoolgaan. Maar, ons was te vergewensgesind. Die raad sal met die ministeries van gesondheid en onderwys praat om ’n uitweg te probeer vind,” het hy aan ontevrede inwoners gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!