N$37 miljoen om vervalle stadions te red

Koste ‘hoër as beplan’
Opgraderings aan die Sam Nujoma-stadion is glo nog nie naby aan die beginfase nie, want Windhoek se munisipaliteit wag op aanbevelings van ingenieurs.
Yandi Du Plessis
Henriette Lamprecht en Limba Mupetami

Net meer as N$37 miljoen is deur die ministerie van sport, jeug en nasionale diens opsy gesit om 14 stadions in die land op te knap en op te gradeer.

Ingesluit hierby is die Onafhanklikheidstadion in Windhoek wat weens sy vervalle toestand sy status as gasheer vir internasionale wedstryde van die wêreldbeheerliggaam Fifa en die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) ontneem is, wat daartoe gelei het dat alle nasionale sokkerspanne hul tuiswedstryde in buurlande moes gaan speel.

Die ministerie het ’n ouditverslag vir dié stadion asook die Vineta- (Swakopmund) en Oshakati-stadions ontvang wat sal verseker alle opgraderings is in ooreenstemming met CAF en Fifa se standaarde.

Minister Agnes Tjongarero het tydens die motivering van haar ministeriële begroting erken die koste is “veel hoër as waarvoor ons oorspronklik beplan het”.

Tjongarero is nietemin vol vertroue dat met die hulp van die private sektor en die regering opknappingswerk by elk van die 14 stadions kan voortgaan.

Intussen is N$7,5 miljoen gereed om dadelik mee te kan wegspring met klein en minder dringende onderhoudswerk by ’n paar stadions, wat wissel van die vervanging van gebreekte infrastruktuur tot die herstel van grensdrade.

Volgens Tjongarero bly die bou van die Eenhana-sportkompleks ’n prioriteit, hoewel van die konstruksie wat reeds voltooi is, “opgeknap of reggemaak” moes word. Tien miljoen is begroot om van ’n sokkerveld tot ’n tartanbaan hier te bou.

Hoewel die lewensvatbaarheidstudie en dokumentasie vir die bou van ’n sportkompleks op Usakos afgehandel is, is die projek weens ’n gebrek aan geld opgeskort. ’n Bedrag van N$2 miljoen is nou hiervoor beskikbaar.

Volgens Tjongarero beplan haar ministerie ook om die sportkompleks op Mariental teen ’n koste van N$2 miljoen op te knap. Dié begroting moet van toiletgeriewe en ’n pawiljoen tot ’n atletiekbaan en die omheining van die gebied dek.

SOKKER SE TUISTE

Die Brave Warriors se onlangse puik vertoning in die Afrika Nasiebeker-kwalifiseringswedstryde het opnuut die teer punt na vore gebring dat nasionale spanne hul tuiswedstryde in die buiteland moet speel, aangesien geen stadion hier geskik is om sokkerwedstryde aan te bied nie.

Nasionale spanne, insluitend die Warriors, het die afgelope twee jaar Suid-Afrika as hul tuisveld vir internasionale wedstryde gebruik nadat CAF die Sam Nujoma-stadion ongeskik verklaar het weens kommer oor veiligheid vanweë “strukturele gebreke”.

Dis nie duidelik hoeveel ekstra die Namibië Sokkervereniging (NFA) elke keer opdok om in Suid-Afrika te speel nie, maar sommige in sokkerkringe reken dit kan miljoene wees.

Op die vraag oor wanneer die opknappingswerk aan die nasionale stadion sal begin, het Harold Akwenye, woordvoerder van die Windhoek-munisipaliteit (CoW), verduidelik die tydlyn is onderhewig aan strukturele bevindings en beskikbaarheid van geld – vandaar die vertraging om met die opgradering te begin.

Hy het bygevoeg ’n advertensie waarin aanbevelings vir strukturele ingenieurs gesoek word, het op 19 Maart gesluit, en evaluerings is afgehandel. Die suksesvolle tenderaar sal in kennis gestel word en dan sal die tendertoekenning gedoen word.

“Natuurlik, sodra daardie proses behoorlik afgehandel is, sal besluite oor die pad vorentoe geneem word,” het hy gesê.

HOEVEEL?

Akwenye het vrae ontduik oor hoeveel die verwagte opknapping sal kos en het bloot gesê die bedrag sal van die ingenieurs se ondersoekverslag afhang.

Hy het bygevoeg die stadion is ’n nasionale fasiliteit wat gebou is om die doel van sy ontwerp te dien; “dus is dit ’n prioriteit van die CoW en eweneens die regering”.

“Sou alle verslae ingedien word, sal dit geëvalueer word en ’n versoek vir kapitaalfinansiering vanaf die regering sal voorgestel word om met die opknappingswerk te begin,” het hy gesê.

“Die stadion het nie voldoen aan vereistes van CAF en Fifa nie, dus is dit belangrik om hieraan te voldoen vir internasionale sowel as plaaslike sokker om by hierdie venue te hervat.”

Die Sam Nujoma-stadion in Katutura het 10 300 sitplekke en is in 2005 ten bedrae van N$64 miljoen voltooi.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 21° | 33° Oshakati: 21° | 32° Ruacana: 22° | 29° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 19° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 24° | 33° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 26° | 38° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 31° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 20° | 30° Durban: 19° | 27° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 30° Harare: 18° | 27° #REF! #REF!