NamWater bring verligting aan boere

Tuyeimo Haidula,Tanja Bause
Tuyeimo Haidula – Die swak reënseisoen wat die Oshana- en Omusatistreek tans ervaar, het NamWater Saterdag genoop om water vanaf die Olushandjadam deur die Etaka-kanaal en uiteindelik na die Opononameer te pomp om verligting aan boere te bied.

Die uitvoerende hoof van NamWater, Abraham Nehemia, het gesê na raming sal water tot Desember uit die dam gepomp word, afhangende van die reënvalpatrone.

Nehemia het gesê dit is ’n ongewone praktyk, maar weens die aanhoudende droogtes het dit noodsaaklik geword dat NamWater met die finansiële ondersteuning van die visepresident se kantoor, water in die Etaka-kanaal pomp.

Hy het gesê die goewerneurs vir Omusati, Oshana en Oshikoto het die dam besoek en die goewerneur van die Omusatistreek, Erginus Endjala, het ’n versoek aan NamWater gerig dat hulle water in die kanaal pomp omdat die streek nie goeie reënval ontvang het nie en gevolglik sal vee en besproeiing daaronder ly.

“Daar word ook van huishoudings verwag om die water vir hul daaglikse behoeftes, veral soos tuinmaak, te benut,” het Nehemia gesê.

Water is vanaf Olushandja in die Etaka-Uuvudhiya-kanaal – wat oor sowat 130 km strek – gepomp. Dié water is slegs geskik vir vee en landboudoeleindes.

Altesaam N$3 miljoen is van die visepresident se kantoor opsy gesit om die suksesvolle voltooiing van dié projek te verseker. Hy het bygevoeg dat hulle vol vertroue is dat die water in die dam genoeg sal wees tot die volgende reënseisoen.

MOENIE VANDALISEER NIE

Nehemia het tradisionele leiers versoek om die gemeenskap wat langs die kanaal woon, te betrek om nie die kanaal te vandaliseer nie.

“Kom ons neem ons vee na die kanaal om te drink en haal water met houers uit die kanaal vir ander doeleindes. Om die kanaal te breek sodat water in oshanas en na ons omheinde gebiede kan vloei, ontsê dié mense en hul vee van die water wat hulle broodnodig het.

“Laat ons asseblief saamwerk om te verseker dat daar konsekwente watertoevoer in die kanaal sal wees gedurende die droë maande wat voorlê.”

Endjala het gesê die afgelope vyf jaar het hulle nie voldoende reënval ontvang nie, wat baie mense wat langs die weste van die kanaal woon, insluitend die Oshana en Oshikotostreek, geraak het.

Hy het gesê die water in die kanaal is ’n lewensaar vir mense wat langs die kanaal woon, aangesien hulle vee regdeur die droë seisoen water sal hê. Hy het ook dieselfde sentimente as Nehemia gedeel en lede van die gemeenskap aangemoedig om die kanaal teen vandalisme te beskerm.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer