NamwaterEenhana(392of529)
NamwaterEenhana(392of529)

NamWater pak projekte van N$1 miljard aan

Jemima Beukes
Die nasionale waterverskaffer, NamWater, het aangekondig dat hy vier groot projekte ter waarde van meer as N$1 miljard gaan aanpak

Dit sluit die opgradering van Hentiesbaai se reservoirpypleiding, wat sowat N$15 miljoen sal beloop, en die vervanging van ’n noodsaaklike 5 kilometer-waterpypleiding vanaf die Omdel-akwifer in.

“Tans het net 87% van Namibië se bevolking toegang tot drinkbare water. Dit laat 13% sonder hierdie noodsaaklike hulpbron.

“NamWater se strategiese beleggings in waterinfrastruktuur is deurslaggewend om 100%-dekking te bereik, in ooreenstemming met sy visie,” lui ’n verklaring van NamWater.

Nog een van NamWater se projekte is die opgradering van die Ondangwa-Omutsegwonime grootmaat-watervoorsieningskema sodat dit aan die toenemende vraag na water kan voldoen en gereelde onderbrekings in toevoer vermy kan word.

Die eerste fase van dié projek sal na verwagting sowat N$91 miljoen kos en sal ten volle deur NamWater gefinansier word. Dit sal fokus op die vervanging van ’n pypleiding van 17 kilometer vanaf Ondangwa na Oshali.

NamWater het Maandag in ’n verklaring gesê dat hierdie opgraderings noodsaaklik is om watersekerheid in die Oshana- en Oshikotostreek te versterk, streekontwikkeling te ondersteun en te verseker dat groeiende gemeenskappe betroubare waterdienste ontvang.

WELLFIELD

Nog ’n groot projek is die Ohangwena II Wellfield-watervoorsieningskemas wat, met die ondersteuning van die Afrika Ontwikkelingsbank (AfDB), daarop gemik is om waterinfrastruktuur vir die informele nedersetting Eenhana en omliggende gemeenskappe te verbeter.

Dié projek vorm deel van die Namibië watersektor-ondersteuningsprogram.

“Hierdie projek, wat nagenoeg N$250 miljoen kos, het ten doel om watervoorsieningskapasiteit ’n hupstoot te gee en ’n volhoubare, betroubare bron van skoon water vir die Ohangwenastreek te verseker.

“Dit sluit boorgate, ’n suiweringsaanleg en noodsaaklike infrastruktuur soos pompstasies, pypleidings en reservoirs in.

“Hierdie inisiatief beklemtoon die belangrikheid van internasionale samewerking om Namibië se waterbehoeftes te takel en ondersteun die breër doelwit om watertoeganklikheid en -gehalte te verbeter.”

KAVANGOSTREKE

In die Kavangostreke beloop die Rundu waterbehandelingsaanleg-uitbreiding en verwante werke-projek sowat N$665 miljoen en is daarop gemik om watervoorsieningskapasiteit te bevorder deur ’n nuwe stelsel vir rouwateronttrekking, ’n gevorderde behandelingsaanleg en opgraderings aan die bestaande watervoorsieningskema te implementeer.

Volgens NamWater is dié uitbreiding van kritieke belang om die dringende behoefte aan betroubare waterinfrastruktuur in hierdie groeiende streke te takel.

NamWater beoog ook om die Outapi-waterbehandelingswerke, ’n projek ter waarde van sowat N$123 miljoen, uit te brei en op te gradeer.

Hierdie inisiatief word van stapel gestuur om die aanleg se kapasiteit uit te brei sodat dit aan die groeiende vraag na water in Outapi en omliggende gebiede kan voldoen en volhoubare en betroubare watervoorsiening kan verseker.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!