No Image Caption

NamWater verdrink in skuld van N$4,2 mjd.

Maan debiteure om te betaal
Inwoners het glo kommer uitgespreek dat hulle hul waterrekeninge aan plaaslike owerhede betaal, maar hierdie betalings word nie aan NamWater gestuur nie.
Francoise Steynberg
Plaaslike owerhede, private waterverbruikers en landelike gemeenskappe skuld NamWater N$2,4 miljard aan uitstaande betalings soos op 28 Februarie 2025.

“Dit is ’n 16%-verhoging vanaf die N$2,1 miljard wat in Junie 2024 aangeteken is, wat ’n ernstige bedreiging vir die langtermyn-volhoubaarheid van watervoorsiening in Namibië inhou,” het die woordvoerder van NamWater, Lot Ndamanomhata, in ’n verklaring gemaan.

Die skuld is oor verskeie verbruikerskategorieë versprei met die uiteensetting van uitstaande skuld soos volg:

• Munisipaliteite: N$211 miljoen;

• Dorpsrade: N$776 miljoen;

• Private verbruikers: N$341 miljoen;

• Dorpsrade: N$146 miljoen;

• Landelike watergemeenskappe: N$676 miljoen.

NamWater is ’n staatsonderneming, wat beteken dit is 100% in staatsbesit. Ndamanomhata het beklemtoon NamWater ontvang geen subsidies van sy aandeelhouer nie en het die afgelope vyf jaar geen tariefaanpassing gehad nie.

“Inkomste-invorderings wissel op grond van waterverbruik en betalingsnakoming. Die groeiende skuldlas – tans op N$2,4 miljard – hou ’n beduidende risiko vir volhoubare inkomste-invordering in,” het hy gewaarsku.

NamWater meen intussen styg die koste voortdurend om water te verskaf, veral energiekoste.

Op 28 Februarie 2025 beloop die totale uitstaande skuld van plaaslike owerhede meer as N$889 miljoen, met die meeste skuld wat deur die dorpsrade van Rundu, Rehoboth, Khorixas, Otavi, Opuwo, Karasburg, Okakarara en die Keetmanshoop-munisipaliteit, Gobabis-munisipaliteit, Otjozondjupa-streekraad, Gibeon-nedersettingsraad en die Omaheke-streekraad verskuldig word.



VEREFFEN SKULD

NamWater doen ’n dringende beroep op alle debiteure om hul skuld te betaal: “Om potensiële wateronderbrekings te voorkom en volgehoue watervoorsiening te verseker, versoek NamWater plaaslike owerhede, staatsinstellings, nywerhede en private verbruikers om hul uitstaande rekeninge te vereffen.

“As die situasie nie verbeter nie, het NamWater dalk geen ander keuse as om strenger maatreëls in te stel om uitstaande betalings te verhaal nie.”

Volgens Ndamanomhata het inwoners kommer uitgespreek dat hulle hul waterrekeninge aan plaaslike owerhede betaal, maar hierdie betalings word nie aan NamWater gestuur nie.

Hy sê aanspreeklikheid van inkomstebestuur bly van kritieke belang en moet versterk word, veral by plaaslike owerhede.

“Water is ’n fundamentele noodsaaklikheid en sonder tydige betalings sal die vermoë om hierdie noodsaaklike hulpbron te verskaf, ernstig benadeel word,” het hy gemaan.

Anders as winsgedrewe besighede, aldus die woordvoerder, maak NamWater slegs staat op inkomste uit waterverkope om bedrywighede, infrastruktuur en dienslewering in stand te hou.

Ondanks stygende bedryfskoste, het NamWater nie die tariewe die afgelope jare verhoog nie, “maar sonder skuldinvordering sal beleggings in verouderende infrastruktuur vertraag word, wat betroubare watervoorsiening in gevaar stel”.

Terwyl die Namibiese regering, grootliks deur NamWater, tans 87% van die bevolking met toegang tot water bedien, is verdere uitbreiding na onderbediende gemeenskappe in gevaar as gevolg van die finansiële druk wat deur onbetaalde skuld veroorsaak word, volgens Ndamanomhata.

“Wanbetaling word onvolhoubaar – soos gesien met uitstaande skuld van meer as N$2,4 miljard. NamWater word gedwing om maatreëls te tref om die skuld te verhaal.

“Die doel is om te verseker dat watertoevoer ononderbroke bly terwyl finansiële volhoubaarheid gehandhaaf word,” het hy afgesluit.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer