Die aktivis Frans Moyo sê die Rundu-dorpsraad se pogings om die waterkrisis te takel, het nog geen resultate opgelewer nie. Foto Nikanor Nangolo
Die aktivis Frans Moyo sê die Rundu-dorpsraad se pogings om die waterkrisis te takel, het nog geen resultate opgelewer nie. Foto Nikanor Nangolo

Nog geen uitkoms vir Rundu se waterkrisis

Nedersettings word swaar getref
Die dorp se verouderde infrastruktuur is reeds verby sy ekonomiese lewensduur.
Nikanor Nangolo
Die Rundu-aktivis Frans Moyo het kommer uitgespreek oor die dorpsraad se pogings om die dorp se voortslepende waterkrisis op te los, wat tot dusver geen resultate opgelewer het nie.

Die ultramoderne uitbreiding van die waterverwerkingsaanleg deur NamWater met ’n geraamde waarde van N$665 miljoen, is die enigste baken van hoop in die stygende vraag na water, volgens hom.

Moyo het gister in ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) verwys na die informele nedersetting Long to Long wat erg onder die waterkrisis gebuk gaan.

“Daar is idees om die pyp van die boorgat aan die kant van die nedersetting af te bring om sommige van die mense moontlik te help.

“Die werklikheid is egter ’n uitdaging. Die enigste hoop nou is waarskynlik die projek by die rivier wat die situasie kan beredder,” het hy gesê.

Hoewel die uitdagings voortduur, het Moyo erken klagtes van inwoners is minder weens die geraakte gemeenskappe wat aangepas het en die hoop op ’n permanente oplossing.

“Mense wag geduldig om te sien wat gaan gebeur. As die situasie egter net so gaan voortduur, gaan hulle beslis weer begin kla omdat die kwessie nie ten volle opgelos is nie,” het hy gewaarsku.



SOOISPITSEREMONIE

Tydens NamWater se sooispitseremonie vir die uitbreiding van die aanleg in Julie verlede jaar, het die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, die groeiende uitdaging erken om voldoende en gehalte-water aan Rundu en sy woonbuurte te voorsien.

“Die bestaande skema is oud en werk tans teen maksimum kapasiteit, wat sy vermoë belemmer om gehalte drinkbare water te verskaf.

“Die waterverspreidingsnetwerk op Rundu verloor byna 50% van sy water deur lekkasies, wat die stelsel uiters ondoeltreffend en duur maak,” het hy gesê.

Die minister het die dringendheid beklemtoon om Rundu se verouderende infrastruktuur te takel, wat sy ekonomiese lewensduur oorskry het en sukkel om in die dorp se groeiende behoeftes te voorsien.

“Ons toegang tot drinkbare watervoorsiening staan tans op 87% nasionaal. Ons is daartoe verbind om die gaping te verklein en watertoevoer na die oorblywende 13% in die kortste moontlike tyd uit te brei,” het Schlettwein bygevoeg.

In Mei verlede jaar het inwoners van Ndama se Sun City- en Long to Long-nedersettings onthul dat hulle sedert September 2023 sonder drinkbare water sit.

In ’n desperate poging het inwoners pype stukkend gesny om toegang tot water te verkry, ’n praktyk wat sedertdien gestaak is nadat die dorpsraad tydelik ingrypings geïmplementeer het, soos die ontplooiing van watertenkwaens.



HARDE WERKLIKHEID

Rundu se waterkrisis, wat duisende sonder betroubare watertoevoer laat, is jare gelede voorspel, maar is grootliks geïgnoreer.

Vroeë voorspellings was dat Rundu teen 2020 ernstige watertekorte in die gesig sou staar as daar geen infrastruktuur-opgraderings was nie.

Dié voorspellings is nou ‘n harde werklikheid, met die dorp se groeiende bevolking wat sy verouderde waterstelsels ontgroei het.

Tydens ‘n vergadering wat laat verlede jaar gehou is met die minister van landelike en stedelike ontwikkeling, Erastus Uutoni, het Rundu se burgemeester, Gabriel Kanyanga, erken dat die dorp se waterkrisis ’n kritieke punt bereik het.

“Rundu se waterkrisis wentel om ’n snelgroeiende bevolking wat vinniger groei as die infrastruktuur wat ons tans het. Vanaf die rivier se kant tot by die reservoir hou die bestaande infrastruktuur nie tred by die bevolking se behoeftes nie,” het Kanyanga gesê.

“Toe ek na vorige verslae gekyk het, was dit duidelik dat Rundu teen 2020 wateruitdagings in die gesig sou staar. Ongelukkig het hierdie voorspellings ’n werklikheid geword,” het hy gesê.

Om die krisis te probeer verlig, het Kanyanga voorgestel dat boorgate in die gebiede geboor word wat die meeste geraak word. Dit sluit in die Ndama-, Sunshine- en Sauyemwa-nedersettings. Die proses is egter weens finansiële beperkings onderbreek.

“In samewerking met die waterministerie het ons 21 potensiële gebiede vir boorgate geïdentifiseer. Ná inspeksies is dit bevestig dat die sink van boorgate in hierdie gebiede die watertekorte sou verlig.

“Die proses is tans egter weens finansiële beperkings op ys. Ons is hoopvol dat finansiering gou verseker sal word om met die boorgate voort te gaan.

“Wanneer dit voltooi is, sal dit ‘n korttermynoplossing vir die probleem bied,” het Kanyanga gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer