Omatako-kanaal bly droog

Byna maand geen water gepomp
Boere moet hulle eie water stoor om voorsiening vir hulle diere te maak – NamWater
Tanja Bause
Die pompe wat water uit die ou Berg Aukas-myn buite Grootfontein in die Omatakokanaal pomp, is nou al vir meer as drie weke stukkend. Die kanaal wat water vanaf die myn na die Omatakodam lei, verskaf aan boere water vir hul vee. Die kanaal is môre egter reeds vier weke droog.

Verteenwoordigers van Namwater het aan ontstoke boere gesê die pompe sou Maandag 15 Januarie herstel en water weer beskikbaar wees.

“Hulle sou onderdele van die Kombat-pompe gebruik om die stukkende twee te herstel. Niks het gebeur nie. Die Woensdag word ons ingelig daar kort nog parte en hulle moet weer Kombat toe vir nog onderdele. Nou Maandag het hulle gesê iets het by die pomp uitgebrand. Die een pomp is nou uiteindelik uitgebou en Windhoek toe gestuur vir herstelwerk,” het die boer Piet Smit gesê.

Volgens Andries Kok van NamWater pomp Kombat nou self die water uit die myn.

“Hulle het begin produseer en moet by die erts uitkom. So hulle pomp in elk geval die water uit en in die kanaal. NamWater doen dit nie meer nie. Ons het probeer om die Kombat-pompe by Berg Aukas in te bou en teoreties moet dit werk, maar in die praktyk was daar probleme waaraan ons nou aandag moet gee. Ons het die pompe en motors Windhoek toe gestuur om te kyk wat gedoen kan word.”

“Ons het die pompe oor die naweek by Kombat uitgebou en by Berg Aukas ingebou en dit het gewerk, maar dit was nie suksesvol nie. Dit is hoekom ons besluit het om nie verder aan te gaan nie, maar om dit Windhoek toe te stuur. Ons moet kyk watter veranderinge ons kan maak om hulle operasioneel te kry. Dit beteken daar is nie op die oomblik ‘n oplossing vir Berg Aukas nie, omdat die Kombat-opsie nie gerealiseer het nie,” het Kok gesê.

DUITSLAND

NamWater het verlede jaar nuwe pompstelle uit Duitsland bestel wat reeds in November in Namibië moes wees.

“As gevolg van verskeie probleme is ons nou eers besig met die finale reëlings om hulle hier te kan kry. Sodra hulle hier aangekom het, behoort die probleem opgelos te wees. As ons gelukkig is, behoort alles terug na normaal te wees in die volgende drie weke.”

WATERVERSKAFFING

Volgens Smit is daar drie boere wat van die kanaal afhanklik is, terwyl ander boere boorgate het.

“My pa Chris het uit nood self water in Grootfontein gaan haal. Hy moet dit op eie koste aanry, ten spyte daarvan dat hy sy rekening stiptelik betaal. Ander boere gebruik nou uit noodweer boorgatwater. Heelparty kontak nie eers NamWater nie, want hul weet niks word gou gedoen nie,” het Smit gesê.

Volgens hom is daar ook nie oor die naweek water afgelewer nie, omdat die vragmotor glo nie oor naweke werk nie.

Kok sê egter dit was nie die geval nie.

“Die vragmotor is gebruik om ander werk te doen en hy sal Vrydag weer terug wees en water aanry. Sover ek bewus is, is daar net twee boere wat ons moet help en waarvan die een sy water in Grootfontein kan gaan haal en die ander een meer afhanklik van ons is. Die ander boere gebruik hul boorgate. Wanneer ons die water met die vragmotor aanry, is dit slegs vir menslike gebruik en nie vir diere nie. Dit is ook in die waterooreenkoms wat ons met die kliënt aangaan dat die boere vir hul diere voorsiening moet maak. Hulle moet hulle eie water stoor vir wanneer die kanaal droog is,” het Kok gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!