Ontsoutingsaanleg nou ’n prioriteit
Die regering se beplande ontsoutingsaanleg aan die kus is noodsaaklik en is nou die hoogste prioriteit vir die ontwikkeling van watertoevoer in die land.
Die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein, sê die nood raak kritiek en met die verwagte nuwe myne sal watertoevoer langs die kus binne drie jaar onvoldoende wees. Schlettwein sê die kus se watertoevoer is reeds onder druk met die Kuiseb- en Omaruru-waterdraer wat soms nie genoeg water verskaf nie.
Schlettwein het NamWater se nuwe raad gister in die hoofstad laat insweer.
Hy het hulle opdrag gegee om die strategiese vyfjaarplan wat pas opgestel is, uit te voer. In terme van die nuwe ontsoutingsaanleg sê hy: “Die proses is reeds begin. Grond is beskikbaar en die omgewingsimpakstudies is van stapel gestuur. Nou moet julle die finale finansiering uitwerk en seker maak die bouwerk begin,” het hy aan die nuwe raadslede gesê.
Die raad word vir die volgende drie jaar deur Luther Rukira as voorsitter gelei, met Meange Shipiki-Kali as sy adjunk. Ander raadslede sluit in Vivianne Kinyaga, Francis Heunis, Uda Nakamela, Fanuel Uugwanga en Matty Hauuanga.
Schlettwein sê een van die belangrikste projekte wat reeds begin het en wat suksesvol onder die nuwe raad se toesig voltooi moet word, is die hernuwing van die waterpypleiding in die Erongostreek.
“Wanneer ons die nuwe ontsoutingsaanleg langs die kus bou, wil ons nie ’n verouderde pypleiding hê nie, wat kan faal onder groter druk weens groter volumes water,” brei hy uit.
Volgens Schlettwein het die ontsoutingsplan drie fases, met fase een wat die bou van ’n aanleg van 20 miljoen kubieke meter behels. Die aanleg sal plaaslike owerhede langs die kus, soos Walvisbaai, Swakopmund, Hentiesbaai en Wlotzkasbaken moet dien, saam met myne in die omgewing, en dorpe soos Uis. In fase twee sal die seewater wat ontsout is tot by Windhoek per pypleiding gevoer word, en later – in fase drie – beoog die regering om selfs Botswana van ontsoute water te voorsien, sê hy.
Rukira het gesê hy sal baie bly wees as ontsoute water tot by Uis en Daures gelei kan word omdat boorgate daar reeds besig is om op te droog.
Volgens Schlettwein sal die regering die nuwe aanleg in samewerking met betrokke myne bou.
“NamWater word betrek om die projek uit te voer, in samewerking met die myne om die projek te help finansier. Met die myne het ons ’n goeie sinergie omdat hulle ook die goedkoopste water moontlik wil hê,” voeg die minister by.
Schlettwein hou vol dat Namibië nooit water as ’n kommoditeit sal behandel nie. “Daar is geen plek vir winsneming wat watertoevoer betref nie,” sê hy.
Volgens die minister is dit omdat talle arm Namibiërs in informele nedersettings water net so nodig het soos ryker Namibiërs en besighede.
Tweedens is water in Namibië duurder as in die res van die streek en dus is goedkoop water noodsaaklik sodat Namibië kan meeding vir nywerheidsontwikkeling.
Ander deurlopende projekte wat die nuwe raad moet voltooi, sluit onder meer in die vestiging van nuwe suiweringsaanlegte op Rundu, Katima Mulilo en Oshakati, herstelwerk aan die Omahenene-Oshakati-kanaal, om die kanaal om die Oshikuku-nedersetting te herlei en om die waterpype vanaf Ondangwa na Omutse Gwonimme, en vanaf Ogongo na Oshakati te herstel.
Die opknapping van die waterpyplyn tussen die Nautedam en Keetmanshoop is net so belangrik, sê hy. In Windhoek moet NamWater saam met die munisipaliteit werk om die rioolaanleg en die suiweringsaanleg op te gradeer.
Waterbronne wat Namibië met buurlande deel moet ook aandag geniet, veral in terme van die Zambezi- en Kavangorivier wat vir meer besproeiing ingespan moet word, volgens die landbouminister.
“Dit is julle werk om te verseker daar is geen onderbreking van toevoer tot die groenskemas nie. Enige onderbreking tot hierdie skemas is fataal,” waarsku hy.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie