Plaaslike kontrakteurs voltooi glo nie projekte
NamWater ‘gee voorkeur aan buitelandse maatskappye’
Hoewel NamWater meen hy ken talle projekte aan plaaslike maatskappye toe, vereis sekere grootskaalse of hoogs gespesialiseerde projekte steeds internasionale kundigheid.
Plaaslike kontrakteurs het glo sedert 2021 nie daarin geslaag om projekte ter waarde van sowat N$315 miljoen vir NamWater te voltooi nie.
Die inligting is openbaar gemaak nadat Namibië se vereniging vir plaaslike besigheid (Naloba) die nasionale waterverskaffer daarvan beskuldig het dat hy voorkeur gee aan buitelandse kontrakteurs wanneer dit kom by die toekenning van waterprojekte.
NamWater het in ’n verklaring wat gister uitgereik is, kommer uitgespreek oor die aantal waterprojekte wat nie deur plaaslike kontrakteurs voltooi is nie.
“Daar was gevalle waar projekte wat aan plaaslike entiteite toegeken is aansienlike vertragings ervaar het, of ’n gebrek aan uitvoering en sommige projekte is laat vaar,” het Lot Ndamanomhata, NamWater se woordvoerder, gesê.
Sommige van dié projekte sluit in fase A en B van die opgradering van die Omahenene–Olushandja-kanaal waar werk in Februarie 2021 begin het, maar tot op hede nog onvoltooid is omdat die kontrakteur wat met die konstruksie van fase B toevertrou is, die terrein in ’n stadium verlaat en dus vordering vertraag het.
Die langverwagte vervanging van die Goblenz-reservoir staan ook stil terwyl gemeenskapslede op water wag.
Werk aan die projek het in September 2023 begin, maar die kontrakteur het glo die terrein verlaat nadat hy slegs 10% van die werk voltooi het.
Ndamanomhata meen dat NamWater geen ander keuse gehad het as om die kontrak te beëindig en alternatiewe oplossings te vind nie.
Die boor van verskeie boorgate op Opuwo is ook in limbo nadat “die kontrakteur ná die toekenning versuim het om met werk op die terrein te begin”.
“Hierdie projek was van kritieke belang om die waterkrisis op Opuwo op te los, wat voortduur terwyl NamWater werk om die kontrak weer toe te ken.
“Boonop is verskeie ander plaaslike toegekende projekte aansienlik agter skedule, wat ons bedrywighede en vermoë om aan die watervoorsieningsbehoeftes te voldoen, verder beïnvloed.
“Terwyl NamWater plaaslike bemagtiging sterk ondersteun, beklemtoon hierdie uitdagings die belangrikheid daarvan om kontrakteurs te betrek wat aan alle tegniese en finansiële vereistes voldoen en die kapasiteit het om daarop te lewer.”
Die vervanging van die Naute–Keetmanshoop-pypleiding is ook in gedrang nadat die kontrakteur nie die nodige prestasiewaarborg verskaf het nie en nooit die terrein gereed gekry het nie. Dit het NamWater glo gedwing om die toekenning te kanselleer om verdere vertragings te vermy.
Ten spyte van die klaarblyklik twyfelagtige vakmanskap van plaaslike kontrakteurs, het Ndamanomhata bygevoeg dat NamWater verbind bly tot deursigtigheid, regverdigheid en voldoening aan Namibië se wet op openbare verkryging.
“Ons doelwit is om betroubare waterinfrastruktuur en -dienste te lewer, terwyl ons plaaslike ekonomiese groei en ontwikkeling bevorder.”
Ndamanomhata het gesê NamWater het talle projekte aan plaaslike maatskappye toegeken in ooreenstemming met sy mandaat om plaaslike deelname en ontwikkeling te bevorder. Hy het bygevoeg dat plaaslike kontrakteurs voorkeur geniet waar hulle ook al aan die vereiste tegniese en finansiële kriteria vir projekuitvoering voldoen.
Daarenteen het hy ook gesê vir sekere grootskaalse of hoogs gespesialiseerde projekte kan internasionale kundigheid nodig wees om aan tegniese vereistes te voldoen.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie