Rantsoenwater vir sekere Windhoekers

Nuwe pompe gaan geïnstalleer word
Luukse leefstylontwikkelings wat oos van Windhoek geleë is, moet tans waterbeperkings toepas.
Augetto Graig
NamWater het gister die onderbreking van watertoevoer na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en leefstylontwikkelings oos van die hoofstad, insluitend Finkenstein Estate, Finkenstein Village en Herboth’s Blick Nature Estate, amptelik bevestig.

Volgens die staatsonderneming het die probleem reeds op Donderdag 21 Julie en Vrydag 22 Julie, met ’n tegniese fout by twee pompmotors van die Otjihase-pompstasie, wat naby Brakwater geleë is, begin. Die Otjihase-pompe is ongeveer in 2014-’15 geïnstalleer.

Die Ondekaremba Estate, die Universiteit van Namibië se Neudamm-kampus, die Otjihase-myn, Omaanda Lodge, Bergvlug en ander kliënte in die Döbra-omgewing word ook geraak.

Finkenstein se trustees probeer reeds sedert verlede maand om inwoners aan te moedig om minder water te verbruik.

Inwoners is gevra om hul daaglikse waterverbruik met 60% te sny, vanaf 450 liter per huishouding, tot 180 liter per dag. Teen 5 Augustus het inwoners hierdie teiken bereik, maar nie voor die waterreservoir op Finkenstein se watervlak na net ’n kwart van sy kapasiteit gedaal het nie.

Die bestuur op Finkenstein het intussen twee bykomende 10 000 liter-watertenks laat installeer en NamWater ry water met watertenks na die geraakte gemeenskappe aan.

Volgens NamWater ry hulle op ’n daaglikse basis sowat 330 kubieke meter water na Bergvlug, Finkenstein, Herboth’s Blick, Omaanda en Ondekaremba aan.

NamWater is ook besig om sy boorgat op die plaas Hoffnung naby Heja Lodge op te knap en om dié alternatiewe bron aan die Otjihase-pyplyn te koppel.

“Sodra die installering voltooi is, sal ons in staat wees om in die normale wateraanvraag van alle geraakte kliënte te voldoen,” lui NamWater se vrystelling.

NamWater het wel bevestig dat die stukkende pompe, wat na Johannesburg gestuur is, so beskadig is dat dit tot 15 weke kan neem om te herstel.

Die besluit is dus geneem om nuwe pompe te koop, wat nie minder nie as drie tot vier weke sal neem om af te lewer.

NamWater het Maandag betrokke kliënte gewaarsku dat “normale watertoevoer na verwagting nie vroeër as vier weke van nou af herstel sal word nie.”

Intussen het Finkenstein se bestuurder, mnr. Dirk Lourens, gesê dat die moontlikheid van beurtwater met die samewerking en hulp van inwoners vermy is.

Hy sê die buurt werk saam met NamWater en hoop dat die situasie binne dae sal verbeter met die hervulling van hul waterreservoir en bykomende watertenks.

Herboth’s Blick se watertoevoer is egter verminder om te verseker inwoners kry wel nog daagliks water.

Mnr. Dan Kamati, woordvoerder van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC), sê egter bedrywighede by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gaan normaal voort.

“Ons het genoeg reserwes om enige onderbreking in die lughawe se bedrywighede gedurende die tydperk af te weer,” het hy op navraag gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!