Sakelui brei uit oor logistieke planne
Groot projekte aan die kom
Spoorlyne, nuwe hawens en opgegradeerde lughawens is Namibië se voorland, volgens sakelui wat Namibië by die pas afgelope Wêreld- Ekonomiese Forum verteenwoordig het.
Namibië beywer hom al jare lank om ’n logistieke middelpunt vir Suider-Afrika en die res van die vasteland te word, en verlede week tydens die land se eerste deelname aan die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switzerland, is verskeie toekomstige ontwikkelinge bekend gemaak.
Volgens mnr. Cedric Limbo, direkteur van vervoerbeleid en regulasie in die ministerie van werke en vervoer, is ’n toekomstige ontwikkeling die verlenging en aansluiting van Namibië se spoorinfrastruktuur met Zambië s’n.
“Die vatbaarheidstudie vir die Trans-Zambezi-spoorlyn is verlede maand voltooi,” het hy gesê.
Dié projek is dringend aangesien Zambië wetshervorming toegepas het om 30% van hul vragvervoer na spoorvervoer oor te skakel. Vrag uit Zambië is reeds 60% van wat die nasionale spoorwegmaatskappy, TransNamib, vervoer, het hy gesê.
Namibië is ook in gesprek met Botswana oor die Trans-Kalahari-korridor (TKC-R)-projek om spoorlyne tussen dié twee lande te verbind, terwyl nog ’n Trans-Oranje-uitbreiding Namibië met die Noord-Kaap in Suid-Afrika moet verbind om die vervoer van groot volumes soos mangaan te vergemaklik.
Limbo sê die goeie toestand van Namibië se paaie laat vervoerverskaffers toe om produkte betyds af te lewering.
Verder het Namibië reeds ooreenkomste met buurlande en ander internasionale organisasies bereik om die vervoer van goedere na en vanaf Afrika te vergemaklik, voeg hy by.
Een voorbeeld wat Limbo genoem het, is die ooreenkoms met Botswana wat invoere gedurende Covid-19-inperkings vergemaklik het.
TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, het by die geleentheid gesê dié spoormaatskappy spog reeds met 22 treinstasies landswyd, eiendom en sakevennootskappe wat die eienaarskap van die Swakopmund Hotel, die dwarslêervervaardigers GPT en spoorbouers Namrail insluit.
Hy sê 34 lokomotiewe word daagliks ingespan om 1 600 sleepwaens te trek, 2,4 miljoen kilometer jaarliks te ry en 1,5 miljoen ton per jaar te vervoer.
Die inkomste wat gegenereer word, is sowat N$465 miljoen per jaar en Transnamib skep 1 300 werksgeleenthede, het Smith gesê.
Met nasionale projekte wat die betrokke spoorlyne met 600 km tot 700 km moet verleng, is verskeie geleenthede vir beleggings beskikbaar. TransNamib poog ook om die helfde van die vervoermark te diens, teenoor die huidige 12%, sê hy.
Smith het ook die geleentheid om spoorlyne vir die hoofstad se pendelaarsroetes te ontwikkel, aangeraak. Met 500 000 mense in Windhoek word daar na oplossings in stede met ’n soortgelyke grootte in Europa gekyk, het hy gesê.
Die uitvoerende hoof van die haweowerheid (Namport), mnr. Andrew Kanime, het uitgebrei oor voorbereiding wat reeds gedoen is om Namibië se hawens in staat te stel om die vasteland se handel te akkommodeer.
Die nuwe vraghouerfasiliteit kan 750 000 vraghouers akkommodeer, wat baie meer as Namibië se eie vraag is, het hy gesê.
Verder beplan Namport om ’n nuwe hawe by Angra Point op Lüderitz te bou, sê hy, waar geriewe om gas uit te voer vir die ontwikkeling van groenwaterstof gereed sal wees.
Gasuitvoere sal ook vanaf Walvisbaai moontlik wees nadat die geriewe ontwikkel is. Ander ontwikkelinge op Walvisbaai sluit onder meer om die droogdok vir die herstelwerk vir vaartuie uit te brei en ’n terminaal vir passasiersvaartuie in.
Die uitvoerende hoof van die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC), mnr. Bisey Uirab, het gesê agt lughawens bedien die vraag binne en buite die land se grense.
NAC se toekomsplanne sluit in die bou van ’n nuwe moderne internasionale terminaal by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako van N$4 miljard; die opgradering en ontwikkeling van die Katima Mulilo-lughawe om beter toerisme na Namibië en buurlande Zambië en Zimbabwe te fasiliteer; en die opgradering van die Walvisbaai- en Lüderitz-lughawe om die vervoer van passasiers en goedere direk uit die buiteland toe te laat.
Op Keetmanshoop beoog NAC om dié lughawe in ’n lugvaartopleidingskool te omskep, sê Uirab.
“Beleggers word genooi,” het hy afgesluit. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie