Stadion se vervalle toestand ’n knelpunt

Tanja Bause
Jemimah Ndebele – Terwyl Namibië uitsien na sy vennootskap met Botswana om moontlik die Afrikabeker-toernooi (Afcon) in 2027 gesamentlik aan te bied, bly die land se Onafhanklikheidstadion ’n knelpunt.

Dit ondanks ’n begroting van N$50 miljoen wat verlede jaar toegeken is vir die opgradering van die geriewe, wat intussen net geskik is om politieke geleenthede aan te bied.

Die toekenning is N$48 miljoen minder as die N$98 miljoen wat nodig is om die stadion te herstel.

Sokker-entoesiaste vrees nou dat die toestand van die stadion die Konfederasie vir Afrika-sokker (CAF) – wat na verwagting binnekort die suksesvolle bod sal aankondig – se besluit sal beïnvloed.

Internasionale sokkerbeheerliggame het beide die Onafhanklikheidstadion, wat die regering deur die ministerie van sport besit, en die Sam Nujoma-stadion wat Stad Windhoek besit, as ongeskik verklaar.

Gevolglik speel die Namibiese senior sokkerspanne hul wedstryde in Suid-Afrika en word daardeur van die spreekwoordelike 12de speler – die tuisskare – beroof.

WAGSPELETJIE

In reaksie op vrae oor die Onafhanklikheidstadion se agterstallige opknappingswerk, het die ministerie van sport, jeug en nasionale diens gesê die werk het nog nie begin nie, aangesien hulle nog wag vir ’n fasiliteitsouditverslag om voltooi te word. Die proses word deur ’n konsultant uitgevoer wat as deel van die 2027 Afcon-bodvoorbereidings aangestel is.

“Sodra ons die verslag kry, sal ons in die posisie wees om die opknappings/opgraderings te begin in ooreenstemming met die konsultant se aanbevelings. Ons is in kennis gestel dat die verslag teen of voor die einde van Maart gereed sal wees,” het Mbumba Erastus Haitengela, uitvoerende direkteur van die ministerie, gesê.

“Hierdie ouditoefening het nie net die Onafhanklikheidstadion in Windhoek geïnspekteer nie, maar ook die Onafhanklikheidstadion in Oshakati en die Vineta-stadion in Swakopmund in ooreenstemming met ons Afcon 2027-bodvoorbereidings. Ons moet ten minste drie stadions hê wat aan CAF-vereistes voldoen om so ’n groot sokkergeleentheid aan te bied.”

FINANSIERING

Intussen het Haitengela verduidelik die ministerie kan nie gebruik maak van die N$50 miljoen wat in die vorige boekjaar aan die projek toegeken is nie, aangesien opknappingswerk in die nuwe boekjaar sal begin.

“Ons het ’n begrotingsvoorsiening in die nuwe boekjaar gemaak om die proses te begin om die Onafhanklikheidstadion in Windhoek op te knap. Die verslag sal vir ons ’n gepaste skatting gee van hoeveel ons vorentoe gaan benodig om die opgradering en opknappingswerk te voltooi,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg ’n voorlopige bedrag van N$37 miljoen is uit die ministerie se begroting van N$473,2 miljoen aan die projek toegeken.

“Die voorlopige N$37 miljoen sal ons net help om die proses aan die gang te sit om al drie stadions op te knap. Sodra die verslag gereed is, sal ons presies kan bepaal hoeveel benodig sal word om uiteindelik al die stadions landswyd op te knap.”

DROOM VS WERKLIKHEID

Brave Warriors se afrigter, Collin Benjamin, het die belangrikheid daarvan beklemtoon om die stadions op te knap en gesê die spanne verlang daarna om voor plaaslike skares te speel.

“Ek dink die opknapping van die Onafhanklikheidstadion is ’n droom. Om te droom en om werklik die werk te doen, is twee verskillende dinge. Kom ons sit die twee bymekaar en laat dit gebeur. Die enigste teken dat hierdie droom ’n werklikheid sal word, sal wees as die Brave Warriors tuis kan speel. Tot dan kan ons net hoop dat iets in daardie ruimte gebeur,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!