Swaar reën sorg vir ompaaie

Henriette Lamprecht,Kristien Kruger
Met Suid-Afrikaanse skole vir die vakansie gesluit het, moes verskeie van dié buurland se besoekers onderweg na Namibië vir hul winterwegbreek noodgedwonge ’n alternatiewe roete vind nadat dele van die pad voor die grenspos by Vioolsdrif weggespoel het. Waar water aanvanklik net oor die N7-pad sowat 10 kilometer voor die dorp en die gebied bekend as Vyf Myl Poort gestroom het, het gedeeltes van die pad egter later losgebreek en weggespoel.

Buiten vir besoekers, word vragmotors wat daagliks op dié roete tussen die twee lande beweeg, nou ook gedwing om sowat 600 km ekstra met alternatiewe roetes af te lê - wat bykomende koste vir vervoermaatskappye beteken.

“Om ons vragmotorroetes te herlei, beloop sowat N$7 000 per vragmotor,” het Verdun van der Watt van Namlog gister aan Republikein gesê. Namlog vervoer ongeveer twee vragte per dag op dié roete. Vragmotorbestuurders moes sedert vroegdag gister Upington of Alexanderbaai om ry.

“Buiten vir die vertraging en die ekstra kostes, moet ons ook reëlings tref ten opsigte van doeaneprosesse en die verklaring van goedere,” het Stephan Terblanche, besturende direkteur van die FP du Toit Transport gesê.

Met onduidelikheid oor hoe lank die roete nog gesluit gaan wees en die gevolglike gebruik van alternatiewe roetes, word vertragings in aflewerings - sowel as oplaaidienste - verwag.

Harald Schmidt, sekretaris-generaal van die Namibië Logistiekvereniging (NLA), het gesê hy het simpatie met vervoermaatskappye en gesê hy hoop hulle kan die uitdaging na die beste van hul vermoë oorkom.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het in ’n verklaring gesê ’n gedeelte van die N7 is “ernstig beskadig, watervlakke styg steeds en is dit moontlik dat nog skade kan voorkom”.

Volgens Sanral sal die pad vir ’n onbepaalde tyd gesluit wees om die nodige herstelwerk te doen wanneer die watervlakke gedaal het. Padgebruikers wat na Namibië reis, kan toegang tot die land by die Alexanderbaai-grens, via die Steinkopf-kruising (N7) na Port Nolloth - op die R382 verkry.

“Ons roetine paaie-onderhoud en alle nooddienste is gereed om die situasie te monitor en op te tree in ooreenstemming met die vlak van nood. Ons gaan paaie sluit waar dit onveilig raak om te reis en waar moontlik alternatiewe roetes aandui,” het Sanral se bestuurder vir die Wes-Kaap, Randall Cable, gesê. Cable het ook beloof om padgebruikers op hoogte te hou soos die situasie verander.

Sanral het ’n beroep op padgebruikers gedoen om uiters waaksaam te wees, stadig te ry en - waar moontlik – dit te vermy om in die betrokke gebiede te reis omdat verdere reën en ongunstige weerstoestande verwag word.

Inskrywings op sosiale media wat fokus op Namibiese paaie, het reisigers ook gewaarsku om nie ompaaie te ry nie, met alle paaie wes van die N7 wat in ’n baie swak toestand is. Volgens een inskrywing het verskeie voertuie vasgeval.

Die Namibiese Paaieowerheid (RA) het gister ook bevestig die Rosh Pinah-Aussenkehr-pad (DR 212) is ná swaar neerslae in sommige dele van die //Kharasstreek weens nat en glibberige toestande met onmiddellike effek gesluit. Volgens die RA word die pad as onveilig vir padgebruikers beskou - wat aangeraai word om die alternatiewe roete van Aussenkehr tot Noordoewer, Keetmanshoop, Aus en Rosh Pinah tot verdere kennisgewing te gebruik.

Vir Namibiërs wat die buurland wil besoek, word voorgestel dat die Grünau-Ariamsvlei-Upington en van daar deur Kakamas na Springbok gebruik word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer