TransNamib leen N$2,6 miljard

Meer treine binnekort landswyd ontplooi
Ontwikkelingsgeld is beskikbaar gestel vir die aankoop van spoorvoertuie.
Augetto Graig
Die nasionale spoorweg-staatsonderneming, TransNamib, het N$2,6 miljard in finansiering deur die Ontwikkelingsbank van Suidelike Afrika (DBSA) en die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) bekom.

Dié bedrag sal oor 18 jaar terugbetaalbaar wees met ’n drie jaar grasieperiode.

Die rentekoers and ander fynere detail word nog onderhandel.

Die DBSA se hoof vir kliëntedekking vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), mnr. Davies Pwele, was Woensdag verheug “om so iets waar te neem, wat trots na die vasteland bring”.

“Dit wys wat ’n werkende regering met duidelike rigtingaanwysers, ’n staatsonderneming met die mandaat en ’n plan, en vennootskappe met uitleners kan bewerkstellig.”

Volgens hom het die DBSA reeds met die eerste beleggerskonferensie belowe om N$8 miljard aan Namibië beskikbaar te stel, en die N$2,6 miljard is nog meer as die N$2,5 miljard wat oorspronklik vir TransNamib beoog was.

Die res van die lenings is bestem vir NamPower en NamWater en die aanbod staan, maar dit hang van hulle af, sê hy.

Hy sê die belegging is betekenisvol vir die vernuwing van die spoorweë in Afrika en, “dit moes in Namibië begin.

Aandag word nie aan spoorlyne op die vasteland gegee nie en dié (belegging) is nie ’n klein kwessie nie. Dit kos vertroue in TransNamib se leierskap, sy raad, die ministerie en die kabinet. Dit weerspieël die regering se besluit om TransNamib te omskep om as middelpunt-ontwikkeling die res van die streek aan te spoor,” het hy gesê.

TransNamib se nuwe raadsvoorsitter, mnr. Lionel Matthews, is in Februarie deur die minister van werke en vervoer, mnr. John Mutorwa, aangestel.

Hy sê: “TransNamib se vermoë om deur hierdie vennootskap met die DBSA in sy spoorwegvloot te belê, sal sy kapasiteit aansienlik verhoog en sal die maatskappy die vryheid gee om bestaande markgeleenthede te benut en om sy markaandeel op ’n regverdig manier te vergroot,” het hy gesê.

TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, sê die geld sal gebruik word om die onderneming se strategiese sakeplan te implementeer wat die kabinet in 2018 goedgekeur en in 2019 bekend gestel het.

Spesifiek sal tien nuwe lokomotiewe aangekoop word, terwyl lokomotiewe wat reeds in TransNamib se besit is, opgegradeer sal word.

Hy het bevestig die spesifikasies vir die nuwe lokomotiewe is vasgestel om soortgelyk aan masjiene reeds in die spooroperateur se besit te wees, en die opgraderingswerk sal op tender uitgestuur word.

TransNamib het tans 24 lokomotiewe wat operasioneel is, en dié getal moet verdubbel, volgens Smith.

TransNamib wil sy vragvolume binne drie jaar tot drie miljoen metrieke ton per jaar vermeerder en daarvoor sal die hoeveelheid treine per dag binne die volgende paar jaar verdriedubbel, sê hy.

“Dus is die rehabilitasie van die spoorlyne ook kritiek vir TransNamib om te groei,” het Smith gesê.

Mutorwa het die regering se toewyding tot verbeterde spoorinfrastruktuur beklemtoon.

“Bewyse van ons toewyding, is die herbouing van die lyn tussen Aus en Lüderitz en die huidige opknappingsprojek tussen Walvisbaai en Kranzberg.

Die verlenging van die spoorlyn vanaf Grootfontein, deur Rundu na Katima Mulilo, is nog ’n voorbeeld van die regering se toewyding,” het hy gesê.

Volgens die minister begroot die regering altesaam N$600 miljoen oor die middeltermyn vir spoorinfrastruktuur.

Mutorwa het TransNamib geprys vir die vordering wat die onderneming die afgelope jare onder moeilike omstandighede gemaak het.

Hy het die suksesvolle algemene jaarvergadering in 2021, die eerste in ses jaar, saam met die vyf jaar sedert enige arbeidsonrus, die hervatting ná 18 jaar van die roete tussen Keetmanshoop en Lüderitz – wat 15 000 ton mangaan per maand vanaf Ariamsvlei na die hawe vervoer – as hoogtepunte uitgelig.

“TransNamib kon vir die eerste keer in sy geskiedenis vervoerooreenkomste met brandstofmaatskappye aangaan om meer as 8 000 ton brandstofprodukte maandeliks te vervoer,” het die minister gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!