Vars water verlore ná pyplek
Lek glo al sewe maande lank
NamWater het Woensdag gesê die lekkasie sal na verwagting teen Sondag herstel wees.
Die pyp wat watertoevoer vanaf die Koichab-pan na Lüderitz verseker, is reeds vir maande stukkend.
Verskeie inwoners het die stukkende pyp vir die eerste keer in Oktober verlede jaar aangemeld.
Die lekkasie het die afgelope sewe maande aansienlik groter geword en ’n rivier van sowat drie kilometer tot by die First Lagoon gevorm, asook ’n varswaterdam net voor die lagoon.
Ingrid Graul sê Paul van Gysen het die water by die First Lagoon naby die Dierebeskermingsvereniging oor maande sien opdam, en hulle het besluit om ondersoek in te stel.
“Die water dam al vir meer as ses maande daar op en dit word net al hoe meer. Ons het met die grondpad langs die treinspoor gery en die rivier gevolg.
“Ons het op die regterkant van die pad – soos jy vanaf Lüderitz na Aus toe beweeg – gery. Ons het toe oor die treinspoor gery en die water aan die linkerkant gevolg tot so ongeveer drie kilometers buite Lüderitz waar ons op die lekkasie afgekom het.”
Die pyp het by ’n treinoorgang gebreek.
“’n Groot swart pyp is stukkend. Mens kan sien daar is al in die verlede aan die pyp gewerk. Stukkende pype en ander rommel lê in die omgewing rond. Die water borrel uit die pyp en loop aan die een kant met die rivier weg en aan die ander kant dam dit onder die leivoor op.”
Graul sê die gebied lyk soos ’n oase met groen gras wat in die woestyn al langs die rivier groei.
“Dit lyk soos die paradys met voëltjies wat sing en talle dierespore van gemsbok tot hiëna wat na die water lei. Vir hulle is dit die paradys, vir die mense van Lüderitz is dit ’n groot verlies. Ons woon immers in ’n woestyn. Ek kan nie glo dat niemand iets in al die maande kon doen nie. Dit is miljoene liters vars water wat in die sand verdwyn.”
Graul het die video’s en foto’s in die sosiale media versprei en Woensdag is Lüderitz se dorpsraad skriftelik deur Andries Kok, die waarnemende bedryfshoof van NamWater, ingelig dat hulle met die herstelwerk begin het en die watertoevoer na die dorp verminder sal word.
“’n Lekkasie op een van die twee pyplyne wat water aan Lüderitz voorsien, het ’n pypbreuk veroorsaak voordat dit herstel kon word. Die deel is intussen op 17 Mei geïsoleer. Water word nou net deur een pyp gevoer. NamWater het met die herstelwerk begin wat tyd sal neem, omdat die pypbreuk onder die treinspoor is.
“Ons verwag ons sal teen Sondag klaar wees en die watertoevoer sal dan terug na normaal keer. NamWater sal ook die watertoevoer na die dorp gedurende die nag sluit sodat die reservoir weer kan opvul,” lui die brief.
Volgens Kok was die lekkasie aan die begin baie min en daar het steeds sowat 50 kubieke liter water per uur deur die pyp gevloei en het slegs sowat 5 kubieke liter per uur gelek.
“Ons was bewus van die lekkasie en was besig om planne te maak om dit te herstel. Dit het nou net langer gevat as wat dit moes. Terwyl ons besig was met planne, het die pyp nou heeltemal gebreek.
“Mense moet ook verstaan dat dit nie net is van vinnig ’n lekkasie regmaak nie. Ons wou die pyp herlei en ons was besig met die planne toe dit nou heeltemal breek en ons gister begin het om die leivoor op te grawe en met die herstelwerk te begin.
“Dit beteken ongelukkig dat Lüderitz se watertoevoer nou drasties oor die naweek verminder sal word.”
Volgens nog ’n inwoner wat elke dag met sy hond in die omgewing stap, het hy al by elke kantoor moontlik aangeklop en die waterverlies aangemeld.
“Ek kom net nêrens reg nie en dit nou al vanaf verlede jaar Oktober toe ek die eerste keer die water gewaar het. Namibië is ’n droë land en ons is in ’n woestyn. Ek kan nie glo dat niemand omgee nie.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie