‘Verlore water’ uit Noorde kwel
Hoofstad misluk met waterbesparings
Tot 73% van die water uit die Karst-akwifer gaan verlore voor dit sy eindbestemming bereik.
Terwyl die hoofstad klaarblyklik nie daarin kan slaag om die nodige 10%-waterbesparings te behaal nie, blyk dit dat slegs 27% van die totale hoeveelheid water wat uit die noorde van die land onttrek word, eindelik die Omatakodam bereik.
Tot 73% van die water uit die Karst-akwifer gaan verlore voor dit die eindbestemming bereik. Dit as gevolg van gereelde probleme en ondoeltreffende infrastruktuur of die waterkanaal wat die water vanaf die Berg Aukas- en Kombatmyn moet vervoer.
Daarbenewens neem dit twee maande voor die water die Omatakodam bereik.
Volgens Excel-dokumente wat deur NamWater bygehou word oor die oordrag van water vanaf onder meer die Swakoppoortdam na die Von Bachdam en dan ook vanaf die bronne in die Noorde tot in die Omatakodam en daarvandaan na die Von Bachdam, ervaar die proses gedurige onderbrekings as gevolg van pype wat bars, kragonderbrekings en probleme met pompe. Dit word alles in die vorm van ’n logboek bygehou.
’n Ingeligte bron, wat die dokumentasie aan Republikein verskaf het, het daarop gewys dat daar sedert 19 Junie vanjaar water uit die Berg Aukas- en Kombatmyn gepomp word. Die eerste van dié water het die Omatakodam eers teen 21 August 2023 bereik – twee maande later.
MEER AS 70% VERLORE
Altesaam 0,795 miljoen kubieke meter (Mm³) water is oor vyf weke uit die Noorde na die Omatakodam gepomp.
By Berg Aukas is 0,345 Mm³ onttrek en by die Kombatmyn 0,575 Mm³, wat altesaam 0,92 Mm³ is en waarvan Okakarara na raming sowat 0,125 Mm³ benut het.
Van die oorblywende 0,795 Mm³ wat oor vyf weke uit die Karst-akwifer onttrek is, het net sowat 0,212 Mm³ die Omatakodam bereik.
Die bron sê ’n verdere verlies van water kom voor wanneer hierdie water die Von Bachdam bereik.
“Die water word kilometers ver hoër op in die rivierstroom uitgelaat en loop ’n ver pad tot in die dam,” sê die bron.
Die bron is ook bekommerd dat waterskaarstes in Windhoek klaarblyklik nou elke vier jaar begin voorkom, terwyl dit voorheen sewe tot tien jaar geneem het.
“As ons so gereeld water uit die Karst-akwifer gaan onttrek, kan ons nie die huidige infrastruktuur regverdig nie. Ons kan nie bekostig om tot 73% van die water te verloor wat ons uit ’n akwifer pomp nie,” het die bron gesê.
BESPARINGS
Nog data in die dokumente toon dat die hoofstad sedert 11 September vanjaar nie daarin kon slaag om enige water te bespaar nie.
Voor dit was die meeste water wat die hoofstad kon bespaar, 9%. Dit was tydens die derde week van Julie.
Dit kom terwyl die korporatiewe kommunikasiebeampte van die Windhoekse munisipaliteit, Cillie Kapolo, die afgelope week weer ’n kennisgewing uitgestuur het waarvolgens die hoofstad 123% water verbruik het – 23% meer as wat die huidige watersituasie vereis.
Volgens die kennisgewing word die hoofstad se watersituasie tans as ’n kategorie C geklassifiseer, wat beteken waterbesparings van 10% is nodig.
DAMME
Damvlakke is sedert Oktober laer as wat voorsien en waarvoor beplan is.
Dit volgens data wat deur NamWater vir die sentrale dele van die land bygehou word.
NamWater se tabelle toon dat dié verskil sedert Oktober sterk begin groei het.
Die damme wat Windhoek en ander dele in sentrale Namibië van water voorsien, het gesamentlik net sowat 26% water oor.
Die Omatakodam is heeltemal leeg, terwyl die Von Bachdam tans net sowat 16,4% water oorhet. Die Swakoppoortdam is 51% vol.
Windhoek sal na verwagting teen 2030 ’n bykomende 6 Mm³ water benodig en ’n bykomende 17 Mm³ teen 2040. Teen 2045 sal die hoofstad na raming dubbeld die hoeveelheid water benodig as wat dit tans gebruik.
TWEE SEISOENE
Belangegroepe en die owerhede uit sentrale Namibië het in Mei vanjaar, soos elke jaar, tydens ’n slypskool byeengekom om ’n plan vir die watervoorsiening in sentrale dele van die land te bepaal.
Hiervolgens laat die huidige watersituasie die hoofstad slegs toe om sowat 24,5 Mm3 water per jaar te gebruik, wat beteken 10% water moet bespaar word.
Die plan vir watervoorsiening word ontwikkel om te kan oorleef asof daar geen toevloei van water na sentrale damme tydens die twee komende reënseisoene sal wees nie. Rolspelers soos NamWater en die Windhoekse munisipaliteit evalueer egter die situasie soos dit reën of as dit vererger en pas dit dienooreenkomstig aan.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie