Vraghouersyspoor by Gammams opgeknap
Transworld Cargo het die ingebruikneming van die opgeknapte syspoor by Gammams in Windhoek die week aangekondig.
Die Namibiese logistieke maatskappy het vanaf Oktober 2021 sowat N$8 miljoen bestee om die syspoor – wat langs sy hoofkantoor in Braunstraat in die Suidelike Nywerheidsgebied geleë is – op te knap. Drie spore is gebou om vraghouertreinwaens te stoor en af en op te laai.
Volgens Transworld Cargo stel die belegging die maatskappy in staat om ’n beter diens aan hul kliënte te lewer.
Die Gammans-syspoor, wat oorkant die Pionierspark-begraafplaas in Hosea Kutakorylaan geleë is, behoort aan TransNamib. Dit is al jare in onbruik en dwarslêers en ander materiaal is ’n geruime tyd daar gestoor.
Met die syspoor op sy drumpel beteken dit dat Transworld Cargo sy kliënte se vraghouers makliker en meer kostedoeltreffend kan hanteer, veral dié van hul Windhoek-kliënte, sê die maatskappy.
Veral Namibia Breweries, vervaardigers van die Windhoek Lager-bier, sal voordeel uit die ontwikkeling trek, volgens Transworld Cargo.
Die brouerye benodig dat ten minstens agt vraghouers per dag hanteer word. Die maatskappy ontvang tot 120 vraghouers per skip wat in Walvisbaai aandoen, en dan verkieslik per spoor na Windhoek vervoer word.
Hul hoofinvoer is garsmout, hop en botteldoppies wat ook uit Duitsland ingevoer word, saam met nuwe toerusting en onderdele.
“Vraghouers neem baie ruimte in beslag en Namibia Breweries is nie vraghouerhanteerders nie, maar vervaardig bier en versprei dié Namibiese produk in die land, en voer dit in vraghouers wêreldwyd uit, insluitend na Oos-Afrika en Europa. Die berging, hantering en terugstuur van vraghouers na hul regmatige eienaars, meestal verskillende rederye, behartig Transworld Cargo namens hul kliënte,” lui Transworld Cargo se vrystelling.
Om vraghouers vanaf die Gammans-syspoor na kliënte te verskuif, gebruik Transworld Cargo hul eie vloot en subkontrakteurs.
Hulle beoog om voortaan die nodige infrastruktuur by die Gammans-syspoor te hê om uitvoerkommoditeite en houers op die perseel te kan stoor, sê hulle.
TransNamib vervoer dit dan per spoor na Walvisbaai en van daar na wêreldwye bestemmings.
Op die oomblik word die meeste van die uitvoerprodukte wat in vraghouers verpak is na Walvisbaai vervoer en na die buiteland verskeep. Transworld Cargo het ook groot planne in Walvisbaai, sê die maatskappy.
TransNamib se uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, sê: “Dit is deel van TransNamib se medium- tot langtermynplan om syspore weer te vestig om die groei van vragvervoer op spoorlyne te ondersteun en om saam met die privaat sektor te werk.”
“Private syspore is ’n uitbreiding van ons stasie-tot-stasie-spoorwegdienste en ons bevorder en moedig die gebruik daarvan aan,” voeg hy by.
“Die belegging in ’n privaat syspoor is die kliënt se verantwoordelikheid, sowel as die uiteindelike instandhouding,” dring hy aan.
Die hoofstad spog met 15 syspore waarvan 13 ingebruik is, terwyl daar 11 in Walvisbaai is nadat Namcor onlangs ook sy eie ontwikkel het. Al die syspore in die hawedorp word gebruik.
Verder het Ondangwa ook vier syspore wat benut word. Tsumeb spog met ses insluitend die Sargberg-syspoor wat deur Ohorongo Cement gebruik word, terwyl Mariental drie syspore het wat almal benut word.
Plekke soos Ariamsvlei, Keetmanshoop, Lüderitz. Grootfontein, Otavi, Karibib en Arandis het elk een syspoor in gebruik. Okahandja het ook twee syspore wat gebruik word, volgens TransNamib se woordvoerder, me. Abigail Raubenheimer.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie